Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA waarsku Ramaphosa daarteen om Gwarube af te dank oor die BELA-wet
# Frankryk het ‘n nuwe eerste minister
# En, sokker: Australiese beroepspelers veroordeel Fifa wat 2034 se Wêreldbekertoernooi aan Saoedi-Arabië toegeken het
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, waarsku president Cyril Ramaphosa om nie die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, af te dank oor haar standpunt oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette nie. Druk is besig om op Ramaphosa toe te neem om die wet sonder wysigings in te stel. Gwarube, van die DA, staan sommige van die klousules teen. Volgens Maimane kan Ramaphosa haar nie afdank terwyl hy nagelaat het om die korrupsie-beskuldigde minister Thembi Simelani te laat gaan nie:
Ramaphosa het intussen nuwe lede vir ‘n vyf-jaar-termyn aangestel op die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taal-gemeenskappe. Thoko Mkhwanazi-Xaluva sal die voorsitter wees en George Mahlangu die adjunkvoorsitter. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die kommissie moet verseker Suid-Afrikaners kan hul kultuur, godsdiens en taal vrylik geniet:
# Die organisasie, Khulisa Social Solutions sê oorlewendes van geslagsgeweld is vasgevang in siklusse van mishandeling weens vrees, finansiële afhanklikheid of maatskaplike druk. Die organisasie het met meer as twee-duisend mense in aanraking gekom as deel van die 16 Dae van Aktivisme-veldtog. Die woordvoerder, Lesley Ann van Selm, sê om opleiding, opvoeding, werksgeleenthede en leierskap aan slagoffers te bied kan hulle help om hul lewens te herbou tot bevordering van hulle onafhanklikheid:
# Francois Bayrou is die nuwe eerste minister van Frankryk na Michel Barnier se bedanking. Die 73-jarige is ‘n uiters belangrike vennoot in president Emmanuel Macron se gematigde alliansie en is al dekades lank ‘n bekende figuur in die Franse politiek. Volgens Macron se kantoor is Bayrou versoek om ‘n nuwe regering saam te stel. Die Franse regering het verlede week in duie gestort nadat Barnier ‘n mosie van wantroue verloor het wat deur geskille oor die begroting veroorsaak is. Hy het daarna bedank na net 90 dae in die pos.
# Sokker: Australiese beroepspelers het die wêreldliggaam, Fifa, veroordeel omdat hy 2034 se Wêreldbekertoernooi vir mans aan Saoedi-Arabië toegeken het en glo die toernooi sal gepaardgaan met beduidende menseregte-risiko’s. Die koninkryk het die enigste bod ingedien, wat Fifa Woensdag aanvaar het. Die mede-uitvoerende hoof van Australië se beroepspelersliggaam, Beau Bosch, sê die internasionale sokkergemeenskap behoort Fifa aanspreeklik te hou oor die besluit, terwyl ander organisasies die wêreldliggaam ook gekritiseer het. Saoedi-Arabië ontken bewerings van menseregte-vergrype.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-391-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….