Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party eis aanspreeklikheid na ‘n klopjag op die woning van Bergrivier se burgemeester
# Noord-Kaapse skole is onbefonds en die LUR is onder druk oor ‘n besteding van R3,5 miljoen
# En, krieket: Anrich Nortjé gaan die oorblywende T20’s en eendagreeks teen Pakistan misloop
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap eis aanspreeklikheid nadat die polisie die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, Ray van Rooy, ondervra het na ‘n klopjag op sy huis, waar daar na bewering ‘n groot hoeveelheid dwelms gevind is. Die DA-lid is na 12-uur sonder aanklag vrygelaat. Die polisie het glo op 700-gram kokaïen en ammunisie afgekom by sy woning in Piketberg. GOOD se woordvoerder, Evert Manuel, eis ‘n regverdige ondersoek na die bewerings:
# Die DA sê die Noord-Kaapse Onderwysdepartement het versuim om skole in vier van vyf distrikte te befonds, wat voorbereidings vir 2025 bedreig. DA-woordvoerder Priscilla Isaacs eis dat LUR Abraham Vosloo aanspreeklik gehou word vir niebetaling wat voedingsprogramme, skryfbehoeftes en instandhouding raak. Isaacs sê skole moet nou geld vir salarisse as bedryfskoste aanwend nadat die departement 3,5-miljoen-rand aan geskenke bestee het. Sy vra ‘n volledige verslag en onmiddellike befondsing van skole aangesien dit die gehalte van onderwys in die gedrang bring.
# Suid-Afrikaanse boere is optimisties oor 2025, met gunstige weervooruitsigte en planne om meer te plant. Hulle beoog om tot 4,47-miljoen-hektaar somergewasse en oliesade te verbou, ‘n styging van een-persent teenoor die vorige seisoen. Landbou-ekonoom Wandile Sihlobo sê hoewel prysinflasie van voedsel in November tot 1,6-persent gedaal het, die laagste sedert 2010, wek die hoë pryse van witmielies kommer weens swak oeste in 2023/24. Verwagte reën as gevolg van die La Niña-weerverskynsel en verbeterde oesvooruitsigte later in 2025 sal egter laer voedselpryse ondersteun.
# Die Angolese president, João Lourenço, het meer gereelde vergaderings van die bilaterale samewerkingskommissie gevra om bande met Suid-Afrika te versterk. Hy het tydens sy staatsbesoek in Pretoria die groeiende Suid-Afrikaanse belegging in Angola uitgelig, veral in sektore soos finansies, telekommunikasie en vervoer. Lourenço, wat deur middel van ‘n tolk gepraat het, het Suid-Afrika se steun vir Angola se voorsitterskap van die Afrika-Unie volgende jaar aangemoedig:
# Krieket: Die Protea-snelbouler Anrich Nortjé gaan die res van die T20-reeks teen Pakistan asook die drie eendagwedstryde misloop. Hy het reeds Dinsdag die eerste T20 misgeloop nadat hy sy groottoon tydens oefening beseer het en ʼn skandering het bevestig dis gekraak. Die veelsydige Dayyaan Galiem van Northern Titans vervang Nortjé vir die oorblywende twee kragmetings. Suid-Afrika het die eerste wedstryd in Durban met 11 lopies gewen. Die tweede word môre in Centurion gespeel en die laaste een Saterdag op die Wanderers in Johannesburg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-144-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-689-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….