Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FNB merk ‘n toename van 59-persent in besteding met virtuele kaarte oor die Swart Vrydag-naweek
# Rugby: Die sport blink uit op die 2024 Sportbedryf-toekennings
# En, Suid-Afrika se graad 5-leerders vaar besonder swak in wiskunde en wetenskap
# FNB het ‘n beduidende toename in Swart Vrydag-besteding aangeteken tot meer as 3,2-miljard-rand – elf-persent meer as verlede jaar. Die bank het 20-miljoen transaksies verwerk, met ‘n toename van 59-persent in die gebruik van virtuele kaarte teenoor ‘n jaar gelede. Digitale betalings het gegroei, met 18-persent van transaksies in winkels en 23-persent aanlyn. Gewilde aankope het kruideniersware, klere en reise ingesluit. FNB moedig klante aan om steeds hul virtuele kaarte te gebruik vir veiliger aanlyn inkopies en om hul begrotings te bestuur met behulp van wenke op sy webwerf.
# Defend Our Democracy bepleit die voormalige minister van Justisie, Thembi Simelane, se verwydering uit haar nuwe rol as minister van Menslike Nedersettings ná nuwe korrupsiebewerings. Die bewerings strek terug tot toe sy die burgemeester van Polokwane in Limpopo was en behels twyfelagtige beleggings in VBS Mutual Bank en haar weelderige leefstyl. Die groep se uitvoerende direkteur, Zaakirah Vadi, vra president Cyril Ramaphosa om haar te skors hangend die uitslag van die ondersoek:
# AfriForum het vandag op ‘n openbare vergadering in Gauteng sy teenkanting uitgespreek teen Eskom se voorgestelde kragtariefverhoging van 36,15-persent. AfriForum se woordvoerder, Morné Mostert, beklemtoon verbruikers, veral lae-inkomste huishoudings, kan nie die verantwoordelikheid van Eskom se wanbestuur dra nie. Hy vra strenger toesig deur die energiereguleerder, Nersa, om onregverdigbare uitgawes in Eskom se tariefberekenings te voorkom. Mostert het bevestig AfriForum het ʼn versoekskrif ingedien om die verhoging verder teen te staan:
# Rugby: Die sport was die groot wenner op die jaarlikse Suid-Afrikaanse Sportbedryf-toekennings. SA Rugby se aanbieding van die Springbokke se tuistoetse is aangewys as die Geleentheid van die Jaar terwyl die #ForeverGreenForeverGold-veldtog bekroon is as die Beste Veldtog op Sosiale Media. Die #BokFriday-veldtog is die tweede agtereenvolgende jaar beloon met die Ondersteunersbetrokkenheid-toekenning. Chasing the Sun 2 wen die toekenning vir die Oudiovisuele Inhoud van die Jaar, met sy bemarkingsveldtog die toekenning vir Veldtog van die Jaar. Die Springbokstut Ox Nché is as Sportpersoonlikheid van die Jaar aangewys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-673-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-79-sent per vat.
# En ten slotte: Graad 5-leerders in Suid-Afrika is laaste uit 59 lande in wiskunde en wetenskap, met die persentasie in albei vakke wat gedaal het. Volgens ‘n studie oor die 2023-neigings in internasionale wiskunde en wetenskap het graad 9-leerders egter ‘n verbetering getoon met wiskunde wat met agt punte gestyg het, van 389 in 2019 tot 397. Suid-Afrikaanse graad 9’s het beter gevaar as dié in lande soos Jordanië, Brasilië en Palestina, hoewel punte in die Wes-Kaap en Gauteng effens gedaal het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….