Nuus 18:00
BULLETIN 25 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê onwettige immigrasie is ‘n reuse- nasionale uitdaging
# Die ANC verwerp kritiek oor die speaker se rol in die ampsklagproses
# En tennis: Jannik Sinner is optimisties oor die verdediging van sy Wimbledonse titel na hy Londen se snikhete weer oorleef
# President Cyril Ramaphosa sê onwettige immigrasie is ‘n reuse- nasionale uitdaging wat maatskaplike samehorigheid, veiligheid en openbare dienslewering raak. Ramaphosa het vrae in die Nasionale Raad van Provinsies beantwoord en gesê die regering stel die kwessie voorop en werk aan die versterking van grensbestuur en -afdwinging. Hy voeg by die regering sal nie pogings om die land te destabiliseer duld nie:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party ondersteun die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Dididza, ten volle, aangesien sy grondwetlik en met behoorlike onpartydigheid opgetree het in president Cyril Ramaphosa se ampsklagproses. Mbalula het na afloop van die party se nasionale werkskomiteevergadering op ‘n nuuskonferensie gesê enige poging om Dididza by die meriete van die saak te betrek, is buite orde. Hy sê die ANC glo die Parlement moet verenig en funksioneel bly en deur konsensus gelei word:
# Die sakeman, Tumelo Nku, het aan die Madlanga-kommissie gesê die Aeroton-dwelmvoorval was nie die eerste keer wat hy inligting oor moontlike misdaadaktiwiteite met wetstoepassing gedeel het nie. Nku het aan die kommissie se voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, gesê hy het voorheen inligting met die geskorste Gautengse verkeerspolisiehoof, Samuel Mashaba, uitgeruil. Hy het bygevoeg sy interaksie met die voormalige adjunk- nasionale polisiekommissaris, Sindile Mfazi, was ook nie sy eerste skakeling nie:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het ‘n landelike program-ooreenkoms van 232-miljard-rand met die Afrika-uitvoer‑invoerbank onderteken om handels- en nywerheidsbefondsing vir Suid-Afrikaanse ondernemings, staatsinstellings en finansiële instellings te bevorder. Die program sal vervaardiging, minerale waarde-veredeling, energie, infrastruktuur en uitvoere binne die raamwerk van die Afrika-vryhandelsgebied ondersteun. Tau sê die vennootskap sal nywerhede, ekonomiese hervorming en streeksintegrasie bevorder. Dit sal plaaslike ondernemings help om toegang tot befondsing te verkry, bedrywighede na Afrika-markte uit te brei en waardekettings te versterk.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, sê hy is optimisties oor die verdediging van sy Wimbledonse titel na hy gister ‘n vertoonwedstryd in versengende hitte in Londen oorleef het. Die Italianer het die plaaslike speler Cameron Norrie verslaan in die Giorgio Armani-toernooi in toestande soortgelyk aan dié wat verlede maand sy Franse Ope in die tweede ronde beëindig het, toe hy krampe en duiseligheid ondervind het. Sinner sê hy het gister fisies baie goed gevoel ondanks die hitte van 33-grade Celsius. Hy is die topgekeurde op Wimbledon, wat Maandag begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-952-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-7-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….