Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Een persoon is in die hospitaal na die Shelley Point-hotelbrand
# ActionSA veroordeel die appèl teen die beurtkrag-uitspraak
# En, tennis: Djokovic sukkel met ‘n seer gewrig
# Een persoon is hospitaal toe geneem nadat hy ineengestort het toe ‘n brand gedeeltes van die Shelly Point Hotel en Spa in St Helenabaai aan die Weskus verswelg het. Die burgemeester van Saldanhabaai, André Truter, het aan News24 gesê die brand het blykbaar in een van die kombuise ontstaan. Dertig brandbestryders is ontplooi om die brand te blus en om te verhoed dit versprei na die omliggende gholflandhoed. ‘n Helikopter is onder meer ingespan om water oor die vlamme te gooi.
# ActionSA veroordeel die regering en Eskom se besluit om verlof tot appèl te vra teen die hofuitspraak wat staatsinstellings, wat hospitale, skole en polisiekantore insluit, kwyt te skeld van beurtkrag. Die hof het beurtkrag ongrondwetlik verklaar. Die leier van ActionSA, Herman Mashaba hou vol die regering moet die beskerming van noodsaaklike dienste en kwesbare mense voorop stel, eerder as om belastingbetalersgeld te gebruik om teen die uitspraak te appelleer:
# Die DA in Johannesburg eis deursigtigheid en ʼn omvattende uiteensetting oor die sakereddingsplanne vir Piotrans (Pie-joe-trans). Piotrans, ʼn busbedryfsmaatskappy vir die Rea Vaya (Rie-ja Waai-ja) busnelvervoerstelsel, is in sakeredding geplaas. ʼn Woordvoerder van die DA, Tyrell Meyers, sê koppe moet rol by Piotrans en die party sal volhard tot aanspreeklikheid gevestig is:
# Iran het die afgelope dae nege veroordeelde dwelmsmokkelaars gehang. Volgens die staatsmedia is drie tereggestel by ʼn gevangenis in die noordwestelike provinsie, Ardabil, op aanklagte van die koop en vervoer van heroïen en opium. Die ander ses is afsonderlik gehang vir die handeldryf in metamfetamien, heroïen en dagga. Iran lê op ʼn belangrike opiumsmokkelroete tussen Afghanistan en Europa en het een van die grootste binnelandse gebruik van opiate. Syfers uitgereik deur die Kantoor vir Dwelms en Misdaad van die Verenigde Nasies laat blyk 2,8 miljoen mense in Iran het ʼn dwelmprobleem.
# Tennis: Novak Djokovic het Serwië vandag na die kwarteindstryd van die United Cup gelei ondanks ‘n gesukkel met ‘n seer regtergewrig wat op die baan behandel moes word. Die wêreld se nommer een-speler het ‘n stel afgestaan in ‘n moeilike oorwinning met 6-1, 6-7, 6-1 oor Jiri Lehecka (Jie-rie Lehetchka) van die Tsjeggiese Republiek, en sy fisioterapeut moes herhaaldelik uitgeroep word. Hy het nie in die beslissende gemengde dubbels gespeel nie. Serwië is nou môre gewikkel in ‘n laaste-agt-kragmeting met Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-685-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-65-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….