Nuus 18:00
BULLETIN 12 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Laurentia Lombaard vra vrywaring van vervolging in die Joslin Smith-ontvoeringsaak
# Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie dring aan geen lasbrief is uitgereik vir die polisie-kommissaris nie
# En krieket: Die Proteas maak die T20-reeks teen Australië gelykop danksy Brevis se skitter-vertoning
# ‘n Voormalige beskuldigde in die Joslin Smith-verhoor wat ‘n sleutelstaatsgetuie geword het, Laurentia Lombaard, vra vrywaring van vervolging. Haar prokureur, Eben van Tonder, het die Wes-Kaapse Hooggeregshof versoek om haar vry te spreek omdat sy gehelp het dat Kelly Smith, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn lewenslange vonnisse kry. Lombaard het onthul Joslin is vir 20-duisend-rand verkoop. Van Tonder het aangevoer sy het ondanks teenstrydighede onder moeilike omstandighede eerlike getuienis gelewer en haar veiligheid opgeoffer. Smith en haar mede-veroordeeldes appelleer teen hul vonnisse.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie het beklemtoon dat geen lasbrief vir die inhegtenisneming van nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, uitgereik is nie. NVG-woordvoerder, Henry Mamothame, sê onlangse mediaberigte wat die teenoorgestelde aandui, is vals. Hy waarsku teen die verspreiding van misleidende inligting wat reputasies kan beskadig en die publiek kan mislei:
# Die Gautengse bestuurder van Binnelandse Sake, Mamokubung Moroke, het bevestig groot skade is aangerig by die kantoor in Germiston, veral by behuisingsadministrasie en immigrasiedienste op die eerste verdieping. Die kliëntediensgebied met slim-ID’s en paspoorte het wel nie gebrand toe betogers die gebou aan die brand gesteek het nie, maar het waterskade opgedoen. Moroke het aan SABC News gesê geboorteregistrasie-dokumente is beskadig en daar sal weer aansoek gedoen moet word. Sy het bevestig mobiele diensvragmotors word vanaf môre in Alberton en Boksburg ontplooi:
# Die DA sê die minister van Landbou, John Steenhuisen, se sterk leierskap is noodsaaklik om werksgeleenthede te beskerm en Suid-Afrika se landbouhandel te bevorder te midde van die Amerikaanse tarief van 30-persent. Die party sê onder Steenhuisen se leiding het nuwe markte vir avokado’s, mielies, beesvleis en ander produkte in Asië en die Midde-Ooste geopen. Die DA-lid, Willie Aucamp, sê onlangse handelsooreenkomste oor steenvrugte met China sal broodnodige ondersteuning aan boere bied:
# Krieket: Dewald Brevis se skitterspel het Suid-Afrika gehelp om die tweede T20 teen Australië in Darwin met 53 lopies te wen en die gasheer se lopie van nege agtereenvolgende oorwinnings te stuit. Sy onoorwonne 125 van slegs 56 balle het die Proteas laat eindig op ‘n reuse-218 vir sewe. Australië se paaltjies het daarna bly tuimel en hulle is uitgeboul vir 165. Corbin Bosch en Kwena Maphaka het albei drie paaltjies geneem. Die beslissende wedstryd word Saterdag in Cairns gespeel nadat Australië die eerste kragmeting gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-en-60-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-334-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….