Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nersa se hoof van elektrisiteitsregulering is geskors hangend ‘n ondersoek
# Die VN sê meer as 200 kinders is die afgelope twee maande in Libanon dood
# En die Hendrikse-broers is die Bokke se skakelpaar teen Wallis
# Die energiereguleerder Nersa se hoof van elektrisiteitsregulering, Nhlanhla Gumede, is geskors sodat ‘n onafhanklike ondersoek gedoen kan word. News24 berig die optrede teen hom is bevestig toe hy afwesig was op Nersa se openbare sittings oor Eskom se veeljarige prysvasstelling. Gumede is in 2020 aangestel en het vroeër kommer uitgespreek oor kragtariefverhogings en bekostigbaarheid. Geen besonderhede is voorsien oor die redes vir sy skorsing nie. Eskom versoek tans ‘n verhoging van 36-persent vir volgende jaar.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, vra daadwerklike optrede om misdaadsindikate te verhinder om die plaaslike verkrygingsreël in die boubedryf te misbruik. Hy het op die nasionale boubedryf-beraad in Durban die misbruik van die plaaslike verkrygingsreël van 30-persent veroordeel, want sindikate eis betaling van kontrakteurs sonder om enige werk te doen. Hy vra ‘n hersiening van die reël om wettige ondernemings te beskerm in plaas daarvan dat dit afpersing en korrupsie vergemaklik:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het eienaars van spazawinkels gevra om binne 21-dae te registreer soos president Cyril Ramaphosa gelas het. Waarnemende kommissaris Hardin Rasthisusu het op nie-voldoening gewys tydens inspeksies na voorvalle van voedselvergiftiging wat tot die dood van leerders gelei het, terwyl ander in hospitale opgeneem is. Ratshisusu het aan die SABC gesê die Wet op Verbruikersbeskerming verhoed die verkoop van onveilige goedere, en vra winkeleienaars moet voorkeur gee aan openbare veiligheid:
# Die Verenigde Nasies sê meer as 200 kinders is in minder as twee maande dood sedert Israel sy aanvalle teen Hizbollah in Libanon verskerp het. Die woordvoerder van die VN-kinderagentskap UNICEF, James Elder, het aan verslaggewers in Genève gesê gemiddeld drie kinders word elke dag doodgemaak. Volgens hom is meer as een-duisend-100 kinders in die geweld beseer en nog baie meer getraumatiseer. Hizbollah het in Oktober verlede jaar vuurpyle na Israel begin afvuur ter ondersteuning van die Palestynse militantegroep Hamas in Gaza.
# Rugby: Die 36-ste stel Springbok-broers, Jaden en Jordan Hendrikse, is die skakelpaar in Saterdag se toets teen Wallis in Cardiff. Handré Pollard is op die bank. Cameron Hanekom kan die 12de speler word wat vanjaar sy buiging vir Suid-Afrika maak nadat hy op die bank gekies is. Afrigter Rassie Erasmus het sewe veranderings aangebring aan die span wat Engeland verlede naweek verslaan het. Thomas du Toit keer terug op vaskopstut en Franco Mostert en Jean Kleyn is die nuwe slotkombinasie. Elrigh Louw vervang die beseerde Pieter-Steph du Toit op flank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-695-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-626-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….