Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFA se president, Danny Jordaan, kry 20-duisend-rand-borgtog in sy bedrogsaak
# Die twee beskuldigdes in die Lifman-moord sal waarskynlik in Desember aansoek doen om borgtog
# En, rugby: Daar is drie aanspraakmakers om Bill Beaumont op te volg as voorsitter van Wêreldrugby
# Die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, en sy medebeskuldigdes in ‘n bedrogsaak is 20-duisend-rand borgtog toegestaan in die Palm Ridge-landdroshof in Gauteng. Jordaan, Safa se finansiële hoof, Gronie Hluyo, en die sakeman Trevor Neethling word daarvan beskuldig dat hulle die beheerliggaam uit 1,3-miljoen-rand verkul het. Landdros Philip Venter het beslis dat Jordaan sy paspoort mag behou vir werksverpligtinge, maar die ander twee moet hulle paspoorte inhandig:
# Die twee beskuldigdes in die moord op die vermeende misdaadwêreld-sleutelfiguur Mark Lifman in George vroeër die maand, sal om borgtog aansoek doen wanneer hulle volgende maand weer in die plaaslike Landdroshof verskyn. Johannes Jacobs en Gert Bezuidenhout is aangekeer naby Uniondale, meer as 100-kilometer van George, enkele ure nadat Lifman op die parkeerterrein van die Garden Route-winkelsentrum doodgeskiet is. Hulle word aangekla van moord met voorbedagte rade. Lifman was met sy dood een van die beskuldigdes in die moord op die sogenaamde steroïedkoning, Brian Wainstein.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê twee-duisend-800 nuwe polisiebeamptes word volgende maand ontplooi vir bykomende veiligheid tydens die feestyd. Die stap is daarop gemik om misdaad te bekamp en die veiligheid van inwoners en besoekers te verseker. Ntshavheni het op ‘n nuuskonferensie oor die onlangse kabinetsvergadering gesê die beamptes sal hulle toespits op hoёrisiko-gebiede met sigbare wetstoepassing en vinniger reaksie:
# Pasiënte in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg het blykbaar te kampe met ‘n linnetekort weens stukkende wastoerusting. Dit het die hospitaal gedwing om staat te maak op onvoldoende provinsiale wasserydienste. Die personeel gee die hospitaal se uitvoerende hoof, Nthabiseng Makgana, die skuld vir hierdie situasie en die DA vra dat sy vervang moet word. Die DA-lid, Jack Bloom het aangedring op die aanstelling van ‘n meer bekwame leier om die hospitaal se begroting, ter waarde van vier-miljard-rand, te bestuur:
# Rugby: Wêreldrugby kies môre ‘n nuwe voorsitter in Dublin, Ierland, om die voormalige Engelse kaptein Bill Beaumont op te volg, wat die laaste agt jaar in die pos gedien het. Die drie aanspraakmakers is die voormalige kaptein van Frankryk, Abdelatif Benazzi, die voormalige Wallaby-flank Brett Robinson, en die Italianer Andrea Rinaldo. Benazzi het 78 toetse vir Frankryk gespeel en het onlangs die rooikaart van 20-minute veroordeel. Robinson is ʼn sterk voorstander om die spel te versnel terwyl Rinaldo ʼn meer wetenskaplike benadering voorstaan om die spel te bestuur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-721-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-611-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….