Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA gaan weer wetsontwerpe voorlê om koalisieregerings bestendig te maak
# Sokker: Kaapstad is verheug om Bafana Bafana te verwelkom vir die Afcon-kwalifiseerder teen Suid-Soedan
# En, Amerikaanse internetsoektogte oor emigrasie styg na Trump se verkiesingsoorwinning
# Die DA beplan om twee wetsontwerpe weer voor te lê om koalisieregerings bestendig te kry. Die Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, en die Negentiende Wysigingswetsontwerp op die Grondwet het ten doel om mosies van wantroue tot een per jaar te beperk, met uitsonderings vir wangedrag of wetsoortredings. Hulle stel ook ‘n onafhanklike paneel voor om bykomende mosies te hersien. Die DA-lid, George Michalakis, glo hierdie maatreëls sal politieke onbestendigheid verminder en beter bestuur verseker, met die fokus op dienslewering eerder as politiekery:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het planne aangekondig om watertekorte in Johannesburg te oorkom. Dit sluit in die herstel van lekkasies, meer herstelspanne en die verlaging van waterdruk oornag om reservoirs te laat opvul. Wateronderbrekings van vier tot 18 dae kan in die stad voorkom, wat probleme vir inwoners sal veroorsaak en die ekonomie beïnvloed. Majodina het aan die media gesê die hoё vraag na water, en verouderende infrastruktuur is sleutelkwessies:
# Die minister van Minerale en Petroleumprodukte, Gwede Mantashe, woon die Mintek 90-konferensie by in die Sandtonse Konvensiesentrum in Johannesburg. Meer as 90 afgevaardigdes van die openbare, privaat en akademiese sektor, insluitend internasionale verteenwoordigers van Amerika, China en Zambië, woon die tweedaagse geleentheid by. Die konferensie bevorder tegnologiese vernuwing in mynbou met besprekings oor mynbou, kritieke minerale, energie en omgewings-, maatskaplike en bestuurskwessies. Referate van globale kundiges laat die soeklig val op vordering wat gerig is op die transformasie van die mynbou- en minerale sektore.
# Sokker: Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê hulle is opgewonde om volgende Dinsdag gasheer te speel vir Bafana Bafana wat sy eerste wedstryd in nege jaar in die metro speel. Die span sal met Suid-Soedan kragte meet in hulle laaste kwalifiseringswedstryd vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi in Marokko. Hugo Broos se span is tans tweede in hulle groep en net twee punte agter Oeganda. Hill-Lewis sê sal hulle alles moontlik doen om dit ‘n onvergeetlike dag vir ondersteuners te maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-906-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-634-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Internetsoektogte in Amerika oor verhuising na die buiteland het die hoogte ingeskiet toe dit duidelik begin word Donald Trump gaan na die Withuis terugkeer. Google se data toon Amerikaanse soektogte vir “verhuis na Kanada” het verlede week met een-duisend-270-persent gestyg binne 24-uur nadat die stembusse gesluit het. Volgens Sky News het soortgelyke navrae oor emigrasie na Australië met 820-persent gestyg terwyl 25-duisend Amerikaners onmiddellik na die verkiesingsuitslae die webwerf, Immigration New Zealand, besoek het. Dit volg op Trump se belofte gedurende sy veldtog oor die massa-deportasie van alle onwettige immigrante.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….