Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wens Donald Trump geluk met sy terugkeer na die Amerikaanse presidentskap
# Ontluikende markte bewe en Trump se terugkeer lei tot die verkoop van Chinese aandele
# En, krieket: 91 Suid-Afrikaners registreer vir die IPL-veiling
# President Cyril Ramaphosa het die Republikeinse aangewese Amerikaanse president, Donald Trump, gelukgewens met sy terugkeer na die Withuis vir ‘n tweede termyn. Ramaphosa is gretig om die sterk, wedersyds voordelige vennootskap tussen die twee lande op talle gebiede voort te sit. Hy wys op die belangrikheid van toekomstige samewerking terwyl Suid-Afrika voorberei vir die presidentskap van die G20 volgende jaar, waarna Amerika by hom oorneem. Ramaphosa sê dit sal die noue bande tussen die twee lande in globale leierskap versterk.
Intussen het ontluikende markte gewankel na Trump se verkiesing. Dit het geldeenhede en aandele ontsenu, insluitend die Mexikaanse peso wat met 3,3-persent teruggesak het terwyl die Hang Seng-aanwyser in Hongkong meer as twee-persent verloor het. Volgens News24 bedreig Trump se beleid van Amerika Eerste, insluitend tariewe en strenger handelsvoorwaardes, ontluikende ekonomieë. Ontleders maan oor ‘n sterker dollar, hoёr opbrengste vir Amerikaanse staatseffekte en ekonomiese druk vir uitvoergedrewe markte in Asië, Latyns-Amerika en Europa.
# Die Departement van Basiese Onderwys werk nou saam met die Departement van Gesondheid om nuwe veiligheidsriglyne vir skole te ontwikkel na aanleiding van die onlangse voedselbesmettingsvoorvalle gekoppel aan giftige plaagdoders. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het op ‘n nuuskonferensie gesê die departement ondersoek ook regsmaatreëls om gevaarlike chemikalieë, soos organofosfate, te verhoed om skoolomgewings binne te kom, ter wille van leerders se veiligheid:
# AfriForum en Solidariteit verwerp bewerings van Cosatu dat apartheidsvlae vertoon is tydens die betoging teen BELA in Pretoria. Kallie Kriel van AfriForum sê die bewerings is vals en kwaadwillig. Volgens Kriel was daar meer as tien-duisend mense wat aan die betoging teen die Wet op Basiese Onderwyswette deelgeneem het, en die organiseerders het een persoon met ʼn Vierkleurvlag opgemerk en baie gou van die toneel verwyder. Hy verwerp Cosatu se bewerings wat die aandag aftrek van sinvolle onderhandelings oor taal- en toelatingsbeleid:
# Krieket: Suid-Afrika is die land met die tweede meeste aantal spelers in die veiling vir volgende jaar se Indiese Premierliga. Indië het een-duisend-165 spelers geregistreer en Suid-Afrika 91. Onder die beskikbare Suid-Afrikaners is Quinton de Kock, Faf du Plessis en Aiden Markram. ʼn Verrassende weglating tussen die een-duisend-574 name is die Engelse kaptein, Ben Stokes. Die IPL gaan die lys verkort nadat hy oorleg geplee het met die tien klubs. Die veiling vind later die maand in Djedda, Saoedi-Arabië, plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-91-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….