Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê Brittanje leen uit die apartheids-handboek om hoofman Zwelivelile Mandela te verban
# Rugby: André-Hugo Venter speel sy 50ste wedstryd vir die Stormers in Stellenbosch
# En Al Jama-ah beplan om ‘n miljoen Moslem-paartjies te help met geldige Suid-Afrikaanse huweliksertifikate
# Die GOOD-party sê die Verenigde Koninkryk se weiering van hoofman Zwelivelile Mandela se visum is eenvoudig verstommend. Die sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dit is ‘n ondeurdagte verbod op vrye spraak wat keer dat Mandela die stryd om geregtigheid vir Palestina en die Palestyne bevorder. Herron sê eerder as om Mandela te boelie, behoort Brittanje sy invloed te gebruik om sy burgers, en die burgers van Israel en Palestina, beter te dien deur gesprekke aan te moedig oor die beëindiging van die volksmoord in Gaza:
# Die DA verwelkom die bekendstelling van die privaat sektor-deelnemingseenheid om die sukkelende hawe- en spoorweg-infrastruktuur te verbeter. Die eenheid, wat deur die minister van Vervoer, Barbara Creecy, aangekondig is, word bestuur deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika. Die DA glo privaat sektor-belegging is noodsaaklik om uiters belangrike infrastruktuur te herstel. Die party se woordvoerder, Thamsanqa Mabhena, vra deursigtigheid, gereelde terugvoering oor vordering, en parlementêre oorsig:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, het die bekendstelling van alternatiewe betaalmetodes vir maatskaplike toelaes aangekondig om onbeheerste bedrog binne die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid te bekamp. Die plan sluit in die oorskakeling na toegewyde bankkaarte vir begunstigdes. Tolashe het tydens ‘n debat in die Nasionale Vergadering die erns van kwessies soos eise na die afsterwe van begunstigdes en dubbele uitbetalings beklemtoon. Sy het bekendgemaak SASSA het in gevorderde tegnologie belê om die voorkoming van bedrog te verbeter en die integriteit van die betaling van toelaes te verseker.
# Rugby: Die haker André-Hugo Venter gaan sy 50ste wedstryd vir die Stormers speel in môre se Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting met Glasgow in Stellenbosch. Die 23-jarige is in die beginspan saam met die Wêreldbekerwenners Manie Libbok en Frans Malherbe, wat albei die eerste keer dié seison vir die Kaapse span speel. Met Libbok op losskakel, skuif Damian Willemse na binnesenter en kaptein Dan du Plessis speel buitesenter, met Ruhan Nel op vleuel. Die wedstryd begin 1.45.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-470-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-736-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: Al Jama-ah sê hy beplan om ‘n miljoen Moslem-paartjies te help met geldige Suid-Afrikaanse huweliksertifikate, kragtens die Departement van Binnelandse Sake se nuwe bepalings. Die verandering laat Moslem-paartjies toe om hulle Nikah-huwelike te registreer, wat dan amptelik op die nasionale bevolkingsregister erken sal word. Al Jama-ah se woordvoerder, Shameemah Salie, sê die bepalings gee erkenning in ooreenstemming met Islamitiese wetgewing en verlaag paartjies se regskoste:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….