Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee beskuldigdes in die Lusikisiki-massamoord gaan aansoek doen om borgtog
# Die speaker van die Johannesburgse raad bevraagteken die wettigheid van Gwamanda se spesiale verlof
# En, rugby: Siya Kolisi skuif na nommer 8 vir die Haaie vir die kragmeting met Munster
# Twee beskuldigdes in die saak oor die massamoord in Lusikisiki gaan op 29 Oktober om borgtog aansoek doen. Zenande Paya en Mawethu Nomdlembu is in Flagstaff aangekeer en het vandag in die Landdroshof op Lusikisiki verskyn op aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in verband met die moord op 18 mense in die dorpie, Ngobozana. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Luxolo Tyali, sê die vier ander beskuldigdes het hulle borgtogaansoeke laat vaar:
# Die speaker van Johannesburg se stadsraad, Nobuhle Mthembu, erken dit was dalk onwettig om spesiale verlof toe te staan aan die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Kabelo Gwamanda, na sy inhegtenisneming op aanklag van bedrog. Mthembu het teenoor News24 erken die reëls van die raad maak nie voorsiening vir sulke verlof nie. Burgemeester Dada Morero het die saak na Mthembu verwys om leiding te gee oor regsaspekte. Die DA eis Gwamanda se onmiddellike verwydering.
# Die Stad Kaapstad se Brand- en Reddingsdienste bestry tans ‘n brand by die onderste sweefspoorstasie op Tafelbergweg, waar litiumbatterye aan die brand is en aansienlik baie rook veroorsaak. Brandbestryders reageer ook op ‘n ander brand naby Strandstraat. Die woordvoerder van die stad se Brand-en-reddingsdiens, Jermaine Carelse, het inwoners aangeraai om waaksaam te bly en die gebiede wat geraak is, te vermy:
# Namibië se belangrikste opposisieparty, die People’s Democratic Movement, maak beswaar omdat ‘n Suid-Afrikaanse onderneming, Ren-Form, gehuur is om die stembriewe vir die verkiesing te druk. Zimbabwe se teen-korrupsiekommissie ondersoek die maatskappy tans oor beweerde verkiesingsbedrog. Die PDM se leier, McHenry Venaani, het kommer uitgelig oor moontlike finansiële wangedrag. Namibië se Verkiesingskommissie volstaan egter met sy besluit, met verwysing na ‘n deeglike evalueringsproses. Namibiërs gaan op 27 November na die stembus, met 15 presidentskandidate en 21 politieke partye wat deelneem.
# Rugby: Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, begin Saterdag in die nommer 8-trui vir die Haaie in die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Munster in Durban. Afrigter John Plumtree het hom van steelkantflank na agsteman verskuif in die plek van Phepsi Buthelezi, wat op die bank begin, met James Venter en Vincent Tshituka die flanke. In die agterlyn vervang Grant Williams sy mede-Springbok, Jaden Hendrikse, op nommer nege. Die Bok-slot Eben Etzebeth sal die span op Kingspark aanvoer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-601-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-730-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….