Nuus 18:00
BULLETIN 8 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile vra tradisionele leiers om saam te werk met nasiebou
# Duitsland staak wapenverkope aan Israel wat vir die oorname van Gaza-stad gebruik kan word
# En krieket: Glenn McGrath verwag Australië gaan skoonskip maak in die reeks om die As teen Engeland
# Adjunkpresident Paul Mashatile het tradisionele en Khoi San-leiers gevra om hul samewerking aan die regering te gee met die beplanning, dienslewering en opheffing van gemeenskappe. Mashatile het in Pretoria die leiers aangespoor om skadelike kulturele praktyke te verwerp en geslagsgelykheid te ondersteun. Hy beklemtoon hul rol in die bekamping van misdaad, dwelmmisbruik en werkloosheid terwyl eenheid bevorder word om ‘n veiliger, inklusiewe en welvarende Suid-Afrika te bou:
# President Cyril Ramaphosa het Rand Water se Zuikerboschstelsel-suiweringsaanleg van meer as vyf-miljard-rand in Emfuleni, Gauteng, ingewy en die regering se verbintenis tot die lewering van skoon, veilige en betroubare water vir alle Suid-Afrikaners herbevestig. Ramaphosa het tydens die geleentheid die Ministerie van Water en die Gautengse leierskap vir hulle pogings geloof. Hy sê water is ‘n basiese reg en die lewensbloed van die gemeenskap, noodsaaklik vir gesondheid, landbou, nywerheid en vernuwing. Ramaphosa sê die aanleg verseker dat almal toegang het tot veilige water:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die stad het ‘n voorstel gedoen om die munisipale polisie die mag te gee om bende-, wapen- en dwelmverwante misdade te ondersoek. Die doel is om die lae skuldigbevindingskoers te verbeter. Dit is tans slegs vyf-persent al word 400 onwettige vuurwapens per jaar verwyder. Die stad vra ook beter toegang tot forensiese toerusting en misdaadinligting, en beter samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hill-Lewis sê ondersoekende magte is die sleutel om beter sake saam te stel:
Nuus uit die buiteland:
# Duitsland het die opskorting van militêre uitvoere na Israel aangekondig weens die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, se plan om Gaza-stad oor te neem. Berlyn is een van Jerusalem se sterkste bondgenote, dikwels beskryf as ‘n geval van geskiedkundige verantwoordelikheid oor die Joodse Volksmoord. Duitsland se kanselier, Friedrich Merz, erken Israel het die reg op selfverdediging en om druk uit te oefen vir die vrylating van gyselaars, maar is diep bekommerd oor die voortgesette lyding van burgerlikes in Gaza. Ontleders beskryf die besluit as ‘n reuse-stap.
# Krieket: Die voormalige Australiese bouler, Glenn McGrath, glo sy land gaan ‘n skoonskip-oorwinning van 5-0 oor Engeland behaal in die volgende reeks om die As, wat in November begin. Engeland het laas in 2015 die gesogte kruikie ingepalm. McGrath, wat die As ses keer gewen het, sê hy het volle vertroue in die Baggy Green met spelers soos Pat Cummins, Mitchell Starc en Josh Hazlewood. Engeland kon laas in 2010 ‘n toets in Australië wen. McGrath sê dit gaan interressant wees om te sien of hulle sake kan omkeer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-718-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-387-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….