Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BP Suid-Afrika bevestig ‘n brandstoftekort in Kaapstad
# Saftu beloof om werkers se regte te verdedig teen voorgestelde hervormings in die arbeidsreg
# En krieket: Bangladesj benodig nog 101-lopies om die Proteas weer te laat kolf in die eerste toets
# BP Suid-Afrika bevestig ‘n brandstoftekort by sy diensstasies in Kaapstad na ʼn onbeplande raffinadery-onderbreking. Dit volg na ʼn bedryfsprobleem die afgelope naweek by Aston Energy se raffinadery in Milnerton wat petrol- en dieselvoorsiening ontwrig het. BP sê in ʼn verklaring hulle het ʼn invoervaartuig vanaf Durban herlei om die tekort te verlig, maar onweer het vertragings veroorsaak. BP verseker klante die raffinadery is weer in volle bedryf en brandstofvoorsiening sal binnekort bestendig wees.
# Saftu het beloof om werkers se regte teen voorgestelde arbeidswet-wysigings te verdedig wat hy as ‘n aanval op die werkersklas beskou. Volgens die organisasie sal die nuwe wette werkgewers toelaat om werkers sonder ‘n verhoor af te dank, beskerming vir jong en nuwe werknemers verminder en werkers se regte in meningsverskille te beperk. Saftu se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, het op ‘n nuuskonferensie gesê hierdie veranderings bevoordeel ondernemings en verswak werkers se mag:
# Ongeveer 400 graad 12-leerders van Gqeberha in die Oos-Kaap kon nie vandag hul Rekenaartoepassingstegnologie-eksamen skryf nie. Dit is weens kragonderbrekings wat deur hewige storms en oorstromings veroorsaak is. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het die Parlement se portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys oor die situasie ingelig. Sy het egter die publiek verseker gebeurlikheidsplanne is beraam, insluitend rugsteun-vraestelle. Gwarube sê die gehalteversekeringsraad, Umalusi, se ondersteuning sal verseker die leerders kan hul eksamen sonder verdere uitdagings voltooi.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het intussen ‘n waarskuwing uitgereik oor ‘n vals video waarin beweer word ‘n matriekleerder by ‘n skool wat nie eers bestaan nie, die Hoërskool Golden Gates, is betrap toe hy gekul het. Dit het onnodige paniek onder leerders en ouers gesaai. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, vra die publiek om nie fopnuus te deel nie, aangesien dit eksamen-integriteit ondermyn en spanning veroorsaak vir die klas van 2024:
# Krieket: Bangladesj het nog 101-lopies nodig om Suid-Afrika weer te laat kolf in die eerste toets in Mirpur. Die gashere was aan die einde van dag twee op 101 vir drie nadat die besoekers ‘n eerstebeurt-voorsprong van 202 gehad het, hoofsaaklik danksy ‘n skitterende honderdtal deur Kyle Verreyne. Kagiso Rabada het in sy eerste boulbeurt in Bangladesj se tweede beurt twee keer toegeslaan en hulle laat steier op vier vir twee. Hulle is gered deur ‘n derdepaaltjie-vennootskap van 55-lopies deur Mahmudul Hasan Joy en Najmul Hossain Shanto.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-405-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-737-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….