Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die beskuldigde in die moord op ‘n Stellenbosse student bly in aanhouding
# Gholf: Die Amerikaner Will Zalatoris gaan die eerste keer aan die Nedbank-uitdaagtoernooi deelneem
# En die spotprenttekenaar Zapiro ontwerp ‘n nuwe reeks T-hemde ter viering van die Springbokke
# ‘n Jong man wat aangekla word van die moord op ‘n student van die Universiteit Stellenbosch, Jesse Mitchell, sal tot Maandag in aanhouding bly. Die negentien-jarige Rudolf Hufke het vandag vlugtig in die plaaslike Landdroshof verskyn op aanklag van moord en roof. Mitchell is tydens ‘n rooftog op sy 19de verjaardag met ‘n skerp voorwerp gesteek. Drie bykomende verdagtes is in hegtenis geneem. Die saak is uitgestel weens tegniese probleme.
# Rise Mzansi dring aan op ‘n doelgerigte, multi-dissiplinêre ondersoek ná die onlangse toename in gevalle van beweerde voedselvergiftiging, wat tot verskeie tragiese sterftes en die hospitalisering van leerders gelei het. Rise Mzansi se woordvoerder Gugu Ndima, beweer die voorvalle, insluitend een waar 25 leerders van die Laerskool Mshuluzane Mayisela in Bronkhorstspruit in Gauteng in die hospitaal beland het, vind té gereeld plaas om afgemaak te word as geïsoleerde voorvalle wat veroorsaak is deur kos wat verval het:
# Die Stad Tshwane het dit duidelik gemaak dat die nuutverkose ANC-onderburgemeester, Eugene Modise, se munisipale rekenings almal op datum is, met geen uitstaande skuld nie. Dit volg nadat die DA beweer het die burgemeesterskomiteelid vir Finansies skuld die munisipaliteit 690-duisend-rand. Die stad se woordvoerder, Selby Bokaba, sê hoewel die bekendmaking van persoonlike munisipale rekening-inligting teen die wet is, sal daar in hierdie geval ‘n uitsondering gemaak word:
# Gholf: Die Amerikaner Will Zalatoris gaan van 5 tot 8 Desember die eerste keer aan die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City deelneem. Die 28-jarige PGA-toer-kampioen sluit aan by sy landgenoot, die verdedigende kampioen, Max Homa, in die DP World-toernooi. Zalatoris moes in 2022 onttrek weens ‘n besering. Hy het vanjaar onder die voorste tien spelers geëindig in die Meesterstoernooi en is 59ste op die wêreldranglys nadat hy vanjaar twee keer op die PGA-toer onder die voorste vyf klaargemaak het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-105-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-716-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Die politieke kritikus en spotprenttekenaar, Jonathan Shapiro, bekend as Zapiro, span kragte saam met Pick n Pay vir ‘n nuwe reeks T-hemde ter viering van die Springbokke. Die versameling bevat ontwerpe van die afgelope 30 jaar en sal by 200 winkels landwyd beskikbaar wees. Volgens Zapiro wil hy Suid-Afrikaners met hierdie samewerking verenig en die soeklig plaas op die rol van sport in eenheid na apartheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….