Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson onthul die eerste bodvenster vir die befondsing van infrastruktuurprojekte
# Die DA dien meer as vyf-duisend besware in teen die hernoemingsvoorstel van Sandtonrylaan in Johannesburg
# En, sokker: Fifa hersien die oordragreëls na die EU se uitspraak
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n bodvenster vir projek-voorbereidings-befondsing bekendgestel. Sektore sluit in energie, water, sanitasie en vervoer. Macpherson sê die projek het ten doel om infrastruktuurbeleggings te bevorder, werkskepping aan te vuur en 1,5-persentasiepunte by die ekonomiese groei te voeg. Hy sê ook ‘n Nasionale Bouberaad sal volgende maand in eThekwini gehou word:
# Die DA het meer as vyf-duisend besware by die Stad Johannesburg ingedien teen die beplande hernoeming van Sandtonrylaan na Leila Khaled-rylaan. Volgens die party glo inwoners die hernoeming is ‘n duur manier om aandag van noodsaaklike dienste af te lei en geen behoorlike raadpleging het plaasgevind nie. Hulle voer aan enige naamsverandering moet ‘n Suid-Afrikaanse held vereer in plaas van ‘n voormalige Palestynse militant. Die DA-lid, Leah Potgieter, sê plaaslike ondernemings is bekommerd oor moontlike diplomatieke kwessies en die finansiële uitwerking:
# Die burgerlike samelewingsorganisasie, Baagi ba Suid-Afrika, is besorg oor toenemende mensehandel en dwelmkartel-swendelary wat Suid-Afrikaners teiken. Inligting deur die Departement van Internasionale Betrekkinge toon 680 Suid-Afrikaners is in 2023 in die buiteland vir dwelmoortredings aangehou. Die organisasie het in ses jaar 36 Suid-Afrikaanse dwelmmuile met hul gesinne herenig. Stigter Glory Matipile beklemtoon baie slagoffers doen aansoek vir werk in die buiteland, wat hulle maklike teikens maak vir smokkelskemas en swendelary op sosiale media.
# Die Wêreld-staalvereniging voorspel ‘n 0,9-persent daling in wêreldwye staalaanvraag tot 1,75-miljard-ton vanjaar weens hoë koste, ekonomiese onsekerheid en taaier finansiële toestande. Die vereniging sê ‘n herstel van 1,2-persent in globale aanvraag word in 2025 verwag, wat aangevuur word deur verbeterde verbruik en infrastruktuurbesteding. Geo-politieke en ekonomiese onsekerhede is steeds uitdagings. Die vereniging sê die motorbedryf gaan ook waarskynlik gedemp bly na ‘n sterk vertoning verlede jaar.
# Sokker: Fifa gaan belanghebbers raadpleeg om sy oordragstelsel te hersien na die uitspraak van die Strafhof van die Europese Unie wat beslis dele van die regulasies is onwettig. Dit sluit in beëindiging van kontrakte sonder billike redes. Die hof het die bestaande reëls gekritiseer wat spelers se vryheid van beweging aan bande lê. Die hoof regs- en nakomingsbeampte, Emilio Garcia Silvero, sê Fifa sal wêreldwyd raadpleeg oor die wysiging van die raamwerk:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-212-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-655-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….