Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA stel die regering van nasionale eenheid se prestasiemeter bekend
# Die SA Sionistefederasie veroordeel die hernoeming van Sandton-rylaan en wys op die diplomatieke en eknomiese gevolge
# En, rugby: Die Bokke gaan middel volgende jaar twee toetse teen Italië speel in Suid-Afrika
# ActionSA het die prestasiemeter vir die regering van nasionale eenheid bekendgestel om die koalisieregering te monitor. Hierdie instrument sal die regering se prestasie met sleutel- ekonomiese, maatskaplike en infrastruktuurkwessies monitor en evalueer, en bied intydse bywerkings. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê die prestasiemeter bemagtig landsburgers om die vordering en mislukkings van die regering te beoordeel en druk te plaas vir die nodige hervormings:
# Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie versoek die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking om in te gryp in die voorgestelde hernoeming van Sandton-rylaan na die Palestynse politikus, Leila Khaled. Hulle glo hierdie verandering is in stryd met die Wet op Diplomatieke Immuniteit en Voordele aangesien Khaled assosieer met ‘n groep wat in Amerika as ʼn terroriste-organisasie beskou word. Woordvoerder Rolene Marks versoek die departement om teen die voorstel beswaar te maak voor die spertyd Vrydag:
# Die polisie het die afgelope week 14-duisend-715 verdagtes in hegtenis geneem tydens Operasie Shanela. Dit sluit twee-duisend-990 gesoekte verdagtes in, insluitend 84 vir verkragting en 30 vir moord. Tydens die operasie is daar ook beslag gelê op 127 vuurwapens en 83 gesteelde voertuie. Volgens polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, is ‘n dwelmmuil in Ethiopië in hegtenis geneem en kokaïen ter waarde van 25-miljoen-rand op die OR Tambo-lughawe in beslag geneem:
# Rugby: Die Springbokke is middel volgnde jaar gashere vir Italië in ʼn reeks van twee toetse, asook vir ʼn Vlak Twee-land. Die Azzurri is tans agste op die wêreldranglys na ʼn goeie jaar, insluitend twee oorwinnings in die Sesnasiesreeks. Die wêreldkampioen speel daarna twee keer in Suid-Afrika teen die Wallabies, twee keer in Nieu-Seeland teen die All Blacks asook ʼn tuis- en wegwedstryd teen Argentinië as deel van die Rugbykampioenskap. Die velde is nog nie bepaal nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-291-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-648-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: Bandopnames van Jimi Hendrix wat nog nooit voorheen gehoor is nie, word volgende maand per veiling verkoop, 54 jaar na die rock-ster se dood. Die demo-opnames uit 1968 is ongeveer sewe minute lank en glo weergawes van Up From The Skies, Ain’t No Telling, Little Miss Lover en Stone Free. Elkeen sal na verwagting honderde-duisende pond haal. Ander items wat te koop is, sluit in betaalstrokies vir Hendrix en sy orkeslede, ‘n handgeskrewe vorm deur die musikant om sy geboortesertifikaat aan te vra en verskeie persoonlike kwitansies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….