Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie keer nog twee verdagtes aan in verband met die versekeringsmoorde waarby ‘n polisielid van Limpopo betrek word
# Meer as 70 matrieks beland in die hospitaal vir vermeende voedselvergiftiging in Carletonville
# En, tennis: Tomas Machac skok Carlos Alcaraz in die kwarteindronde van die Sjanghaise Meesterstoernooi
# Die polisie het nog twee verdagtes in hegtenis geneem wat na bewering verbind word met ‘n polisielid van Limpopo wat vanoggend aangekeer is vir versekeringsverwante moorde. Newzroom Afrika berig die 43-jarige sersant het hulle na bewering gewerf om hul eks-minnaars te vermoor. Die beampte word daarvan beskuldig dat sy sedert 2019 voordeel ter waarde van 10-miljoen-rand getrek het uit bedrieglike begrafnis- en lewenspolisse vir behoeftige individue. ‘n Langdurige ondersoek deur kaptein Keshi Mabunda het gelei tot haar inhegtenisneming. Die drie sal na verwagting môre in die Distrikshof in Polokwane verskyn.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid sê meer as 70 matriekleerders van verskeie Wes-Randse skole word weens vermeende voedselvergiftiging in die Carletonville-distrikshospitaal behandel. Die voorval het vanoggend plaasgevind tydens ‘n matriekkamp by die Sekondêre Skool Fochville. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê een leerder is na ʼn privaat instelling geneem en die ander is in ʼn bestendige toestand:
# Die EFF-leier, Julius Malema, vra Belasting op Toegevoegde Waarde moet weens Suid-Afrika se sukkelende ekonomie tot 14-persent verlaag word. Malema het ook beklemtoon die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moet versterk word vir ekonomiese transformasie en om die onwettige vloei van geld aan te pak, asook korrupsie en wanadministrasie. Hy het daarbenewens ook die Nasionale Tesourie gekritiseer en beweer dit ondermyn die oordrag van rykdom na die swart meerderheid:
# Tennis: Die Tsjeggiese speler, Tomas Machac, het in die wedstryd van sy lewe die wêreld nommer twee, Carlos Alcaraz van Spanje, in die kwarteindronde van die Sjanghaise Meesterstoernooi uitgeskakel. Die 23-jarige is tans nommer 33 op die wêreldranglys. Machac kom volgende teen die wêreld nommer een, Jannik Sinner van Italië, te staan, wat maklik met die Rus, Daniil Medvedev, afgereken het. Die ander twee kwarteindstryde word môre beslis tussen die Amerikaner Taylor Fritz en die Belg David Goffin, en Novak Djokovic van Serwië teen nog ʼn Tsjeg, Jakub Mensik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-900-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-629-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Opwinding laai op voor môre se aankondiging van die Nobelprys vir Vrede in Oslo weens die onvoorspelbaarheid van die komitee. Daar is omstrede benoemings onder die 286 kandidate, soos die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, oor sy gespanne verhouding met Israel. Die Suid-Afrikaans-gebore miljardêr, Elon Musk, is ook benoem vir sy ondersteuning van spraakvryheid en globale verbinding met Starlink. Anna-Karin Palm van die Nobelkomitee het intussen besin oor die ryke, komplekse werk van die pryswenner vir Letterkunde, Han Kang van Suid-Korea:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….