Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Man wat aangekeer is vir die Lusikisiki-massamoord het vorige veroordelings vir moord en ontsnapping
# Samwu vra onmiddellike salarisverhogings en die heraanstelling van afgedankte werkers onder Tshwane se nuwe burgemeester
# En, tennis: Aryna Sabalenka sê die vrouespel het haar wedywering met Iga Swiatek nodig
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig hy gaan borgtog teenstaan vir die paroolganger wat aangekla word van die massamoord in Lusikisiki in die Oos-Kaap. Siphosoxolo Myeketha staan tereg op 18 aanklagte van moord en een van die onwettige besig van ‘n vuurwapen. Die NVG se streekswoordvoerder, Luxolo Tyali, sê hy het vandag in die plaaslike Landdroshof verskyn en die saak is tot Dinsdag uitgestel vir verdere profiel-samestelling en ‘n verslag oor sy parool-status:
# Die munisipale vakbond, Samwu, eis die onmiddellike betaling van salarisverhogings wat aan Tshwane se munisipale amptenare verskuldig is. Dit volg op die verkiesing van die nuwe burgemeester, Nasiphi Moya. Die vakbond wil hê die munisipaliteit moet onmiddellik sy hersieningsaansoek by die Arbeidshof terug trek ten opsigte van sy salarisverhoging van 5,4-persent vir 2023. Samwu se streeksekretaris, Precious Theledi, vra ook die heraanstelling van werkers wat deur die DA-koalisie afgedank is.
# Die Departement van Binnelandse Sake het die afstandwerk-besoekersvisum en ‘n nuwe punte-gebaseerde stelsel vir werkvisums in die Staatskoerant gepubliseer. Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, prys die hervormings en bestempel dit as ‘n groot stap om buitelandse talent te lok, beleggings te bevorder en werkskepping te versterk. Hy sê hierdie stappe het ten doel om visumprosesse te stroomlyn, rompslomp te verminder en korrupsie in die immigrasiestelsel te bekamp:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Aryna Sabalenka, glo haar wedywering met die nommer-een, Iga Swiatek, is baie nodig vir die vrouespel. Die Belarus is deur na die derde ronde van die Wuhan Ope nadat sy Katerina Siniakova geklop het. Swiatek is nie in Wuhan nie en het aan die Chinese Ope onttrek nadat sy en haar afrigter se paaie geskei het. Sabalenka het die geleentheid om die agterstand met die Pool te verklein, terwyl die stryd om eerste plek waarskynlik uitgespeel sal word op volgende maand se WTA-jaareindtoernooi in Rijaad.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-841-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-608-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-52-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Brasiliaanse non, suster Rosita Milesi, het die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap se Nansen-toekenning vir 2024 gewen vir haar werk om migrante en vlugtelinge in die land te ondersteun. Sy het in ‘n tydperk van 40-jaar duisende gehelp om toegang tot regsdokumente, skuiling, kos, gesondheidsorg en werk te kry. Milesi, wat die Instituut vir Migrasie en Menseregte lei, het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die vorming van Brasilië se vlugtelingwet van 1997 en migrasiewet van 2017. Die toekenning vereer haar verbintenis tot vlugteling-regte en humanitêre pogings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….