Nuus 18:00
BULLETIN 7 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika stel ‘n omvattende handels- en beleggingsplan met China bekend tot 2029
# Rusland en Indië is verbind tot ‘n strategiese vennootskap ná Trump se tariefverhoging
# En rugby: WP maak vyf veranderings vir die Curriebekerwedstryd teen Griekwas
# Die kabinet verwelkom die ontwikkeling van ‘n handel- en beleggingspakket vir 2025 tot 2029 om ekonomiese bande met China te versterk. Adjunkpresident Paul Mashatile het die pakket verlede maand bekendgestel gedurende sy besoek aan die Asiese moondheid. Dit posisioneer Suid-Afrika as die deurgang na Afrika suid van die Sahara. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die plan teiken handel en beleggings in sleutelnywerhede soos staal, farmaseutiese produkte en batterye, terwyl dit vaardigheidsontwikkeling onderskraag:
Rusland en Indië het intussen hul verbintenis tot ‘n strategiese vennootskap beklemtoon tydens bilaterale veiligheidsgesprekke in Moskou. Dit volg op die Amerikaanse president, Donald Trump, se aankondiging oor hoër tariewe op Indiese invoere omdat hy Russiese olie aangekoop het. Die Indiese nasionale veiligheidsraadgewer, Ajit Doval, sê Nieu-Delhi sien uit na ‘n besoek van president Vladimir Putin teen die einde van die jaar. Trump se instelling van ‘n bykomende tarief van 25-persent op goedere uit Indië, wat op die 28ste in werking tree, dui op die ernstigste agteruitgang in die verhouding tussen die twee lande sedert die begin van sy tweede ampstermyn.
# AfriForum sê die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, vererger diplomatieke spanning met Amerika en bevorder rassisme. Die organisasie het Mbalula veroordeel omdat hy Afrikaner-vlugtelinge in die VSA op ‘n nuuskonferensie karwagte en moordenaars genoem het. AfriForum beskuldig Mbalula daarvan dat hy die verhouding tussen Amerika en Suid-Afrika vererger deur die Amerikaanse regering as imperialiste te beskryf. Ernst van Zyl van AfriForum sê die kommentaar is verdelend en beskadig maatskaplike samehorigheid:
# Die adjunkminister vir die Jeug en Persone met Gestremdhede, Steve Letsike, het die aanstootlike opmerkings op die Open Chats Podcast veroordeel en sê dit ondermyn eenheid en inklusiwiteit. Die aanbieders het bruin mense in die betrokke episode gestereotipeer, beskryf as mal en gesê hulle pleeg bloedskending. Letsike het die behoefte aan respekvolle dialoog beklemtoon, veral in ‘n uiteenlopende nasie soos Suid-Afrika. Die aanbieders het om verskoning gevra, maar Letsike vra verdere aanspreeklikheid en beklemtoon haatspraak kan nie as vryheid van spraak verskoon word nie.
# Rugby: Westelike Provinsie het vyf veranderings aangebring aan die span vir môremiddag se Curriebeker-wedstryd teen Griekwas in Kimberley. Tristan Leyds vervang Shilton van Wyk op heelagter. Justin Geduld is ingesluit as buitesenter en Luke Burger is op die bank. Jurie Matthee kry sy eerste speelkans van die seisoen op losskakel in die plek van die beseerde Kyle Smith. Onder die losvoorspelers is De Wet Marais terug op flank na sy besering en in die voorry maak Mhleli Khuzwayo sy eerste verskyning van die seisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-412-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-381-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….