Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA dring aan op minister Thembi Simelane se inhegtenisneming in verband met die VBS Bank-skandaal
# Zizi Kodwa se korrupsiesaak is uitgestel tot 24 Oktober
# En, rugby: ‘n Oorkruiskode-wedstryd op Headingley gaan fokus op motorneuronsiekte
# ActionSA eis die inhegtenisneming van die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, oor die VBS Bankskandaal. Die party het dié week strafregtelike klagtes teen Simelane ingedien. Dit is na aanleiding van ‘n lening van 575-duisend-600-rand van Gundo Wealth Solutions, wat glo gebruik is om ʼn koffiewinkel te koop. ActionSA se woordvoerder, Malebo Kobe, beweer dokumente is vervals om ʼn onwettige ooreenkoms wettig te maak:
# Die korrupsiesaak teen die voormalige minister, Zizi Kodwa, en die gewese uitvoerende hoof van die tegnologie-oplossingsgroep EOH, Jehan Mackay, is tot 24 Oktober uitgestel. Mackay het Kodwa na bewering met 1,7-mijoen-rand omgekoop vir tenders. Mackay se regspan het die Direkteur van Openbare Vervolgings genader om die aanklagte te laat vaar, en ʼn besluit word oor twee weke verwag. Kodwa se prokureur, Zola Majavu, sê hulle is gereed om voort te gaan:
# Die DA dring aan op ‘n onmiddellike ondersoek na bewerings van beurs-bedrog en korrupsie by die Gautengse Departement van Onderwys. Dit volg ná bewerings deur anonieme werknemers oor senior amptenare wat druk op personeel uitgeoefen het om fondse te herlei wat geoormerk was vir verdienstelike leerders in die Gauteng City Region Academy. Die DA se woordvoerder, Sergio Isa dos Santos, sê hierdie bewerings wek ernstige kommer oor die beursstelsel se integriteit en sluit berigte van intimidasie teen verklikkers in.
# Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika het ses van agt spoordeurgange in Durban herstel ná uitgebreide vandalisme tydens Covid-19. Zipho Mlambo van PRASA sê die nuwe treine vervang ouer modelle, met stasies wat opgeknap is met die nuutste tegnologie en verbeterde veiligheidskenmerke. Sy sê spesiale treine sal sokkerliefhebbers Saterdag na die MTN8-eindstryd op die Moses Mabhida-stadion vervoer:
# Rugby: ʼn Oorkruiskode-wedstryd op Headingley in Leeds, Engeland, op 17 November sal geld insamel vir navorsing oor motorneuronsiekte en mense met die toestand ondersteun. Die voormalige Springbok-spelers Joost van der Westhuizen en Tinus Linee is dood aan MNS terwyl die legende van Leeds Rhinos, Rob Burrow, tot met sy dood in Junie aan die projek gewerk het. Die gewese rugbyunie-spelers Danny Cipriani en Tom Youngs, asook die ligaspelers Keith Senior, Adrian Morley en Danny McGuire, is onder diegene wat gaan speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-663-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….