Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ministerie van Polisie beloof verhoogde teenwoordigheid en hulpbronne in Lusikisiki
# Die Regterlike Dienskommissie gaan voort met regtersonderhoude ondanks die MK-party se regsuitdagings
# En, tennis: Jannik Sinner bespreek ‘n Chinese Ope-eindstryd teen Carlos Alcaraz
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het beloof om polisiesigbaarheid en hulpbronne in Lusikisiki in die Oos-Kaap te verbeter ná ‘n massaskietery waarin 18 mense dood is. Die Ministerie van Polisie het sy verbintenis bevestig tot noue samewerking met plaaslike gemeenskappe om misdaad te bekamp en vrede en veiligheid te herstel. Mchunu het tydens sy besoek aan die slagoffers se families sy skok en medelye uitgespreek en erkenning gegee aan die gemeenskap se hartseer:
# Die Regterlike Dienskommissie gaan volgende week voort met onderhoude met regters sonder die afgedankte regter en adjunkpresident van die MK-party, John Hlophe. Hoofregter Mandisa Maya het bevestig hierdie besluit is met ‘n meerderheidstem aanvaar ondanks dreigemente van regsoptrede deur Hlophe se party. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Hlophe verbied om deel te neem, maar sy afwesigheid raak nie die kommissie se vermoë om wettig te vergader nie. Die onderhoude begin Maandag.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, is besorg oor die uitbuiting van buitelandse werkers in Suid-Afrika. Sy het aan die media gesê daar is tydens landwye blitsinspeksies gevind sommige instellings oortree immigrasiewette. Volgens Meth is daar ʼn toename in buitelandse burgers wat onbillik behandel word in die werkplek:
# Tennis: Die wêreld nommer een, Jannik Sinner van Italië, en nommer drie, Carlos Alcaraz van Spanje, gaan môre in Beijing sake uitspook om die Chinese Ope-titel. Alcaraz het Daniil Medvedev vandag in skoon stelle uitgeskakel terwyl die plaaslike promotorskeuse, Bu Yunchaokete, Sinner laat swoeg het in die ander halfeindstryd voor die Italianer die wedstryd beklink het. In die vroue-afdeling het die 15de gekeurde Spanjaard Paulo Badosa die tweede gekeurde Amerikaner, Jessica Pegula, in die ronde van 16 verras, en speel volgende teen die plaaslike speler, Zhang Shuai.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-672-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-31-sent per vat.
# En ten slotte: ʼn Een-en-tagtig-jarige model het aan die Mej Heelal Korea-kompetisie deelgeneem in ʼn poging om die oudste Mej Heelal-deelnemer in die wêreld te word. Choi Soon-hwa het nie gewen nie, maar is as die besgeklede deelnemer aangewys gedurende die geleentheid in ʼn hotel in die Suid-Koreaanse hoofstad, Seoel. Choi het in hospitaalversorging gewerk voor sy in haar sewentigerjare met haar modelloopbaan begin het. Sy sê mense moet na haar kyk en besef jy kan gesonder lewe en gelukkig wees indien jy jouself uitdaag om ʼn droom te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….