Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie is verbind tot E-regering vir verbeterde dienslewering vir die regering van nasionale eenheid
# Die Parlement se Justisie-portefeuljekomitee wag aansoeke in vir ‘n Adjunk Openbare Beskermer
# En, rugby: Die Bokke maak tien veranderings aan die beginspan teen Argentinië
# President Cyril Ramaphosa het planne aangekondig vir die Presidensie om digitale tegnologie in te span en dienslewering deur e-regering te verbeter. Ramaphosa het met sy personeellede gepraat terwyl hy die Langdiens-toekenningseremonie aangebied het en het die groeiende rol van tegnologie in Suid-Afrika beklemtoon. Hy het ook die regering se verbintenis tot die regering van nasionale eenheid se voornemeverklaring herhaal, wat beter koördinasie en doeltreffendheid verseker:
# Die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Justisie wag aansoeke in vir die vakante pos van adjunk openbare beskermer, bykans ‘n jaar na Kholeka Gcaleka se bevordering. Die vorige aanstellingsproses is op regspunte gestaak weens die betrokkenheid van die vorige openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane. Voornemende kandidate moet teen 10 Oktober aansoek doen. Die komiteevoorsitter, Xola Nqola, sê die proses moet teen einde November afgehandel wees. President Cyril Ramaphosa sal finale aanstelling doen na aanbevelings deur die Nasionale Vergadering.
# Die DA in Gauteng het onthul die provinsiale Onderwysdepartement het in vyf jaar meer as 186-miljoen-rand bestee aan bestuursfooie vir vroeëkinderjare-ontwikkeling. Hierdie fooie sluit pakhuis- en verspreidingskoste in. DA-woordvoerder Michael Waters sê die departement moes eerder die geld gebruik het om kinders regstreeks in skole te bevoordeel:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het tien veranderings aan sy beginspan aangebring vir hulle voorlaaste wedstryd Saterdag in die Rugbykampioenskap teen Argentinië. Slot Salmaan Moerat voer ʼn span met ʼn nuwe voorkoms aan. Ox Nché, Ruan Nortjé, Jasper Wiese, Handré Pollard en Jesse Kriel is die enigste spelers wat ook teen Nieu-Seeland in Kaapstad begin het. Lukhanyo Am en Malcolm Marx verskuif van die bank na die beginspan. Aphelele Fassi, Kurt-Lee Arendse, Makazole Mapimpi, Cobus Reinach, Ben-Jason Dixon, Marco van Staden en Thomas du Toit is terug in die beginspan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-726-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-580-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-33-sent per vat.
# Ten slotte: Amazon het aan sy kantoorwerkers gesê hulle mag van 2 Januarie volgende jaar nie meer van die huis af werk nie, behalwe met versagtende omstandighede. Die uitvoerende hoof van Amazon, Andy Jassy, het gesê hierdie situasies is ingesluit wanneer personeel of hul kinders siek is, in noodgevalle, die reis na werk problematies is of kodering in ‘n meer geïsoleerde omgewing gedoen moet word. Sommige personeellede wat buitengewone toestemming gekry het om steeds afstandwerk te doen, sal dit steeds kan doen. Jassy sê om te leer, saam te werk, idees te genereer en maatskappykultuur te versterk is eenvoudiger en meer doeltreffend in die kantoor en spanne is beter verbind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….