Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie versoek leiers om opbouend te reageer op die BELA-wet eerder as om hulle te wend tot dreigemente
# Die DA vra Ramaphosa om steun van die privaat sektor te kry vir die aanbieding van volgende jaar se G20-spitsberaad
# En SA Rugby waarsku ondersteuners om nie kaartjies te koop van twyfelagtige webblaaie vir die toets tussen die Bokke en die Pumas nie
# Die Presidensie versoek leiers van politieke partye om opbouend te reageer op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette in plaas van om hulle te wend tot dreigemente. President Cyril Ramaphosa sal die wet Vrydag onderteken, en vra selfbeheersing en produktiewe dialoog om die bestendigheid van die regering van nasionale eenheid te handhaaf. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die wetsontwerp sal onderteken word tensy grondwetlike kwessies opduik, en versoek die oplossing van geskille deur demokratiese kanale:
Die DA vra Ramaphosa intussen om steun uit die privaat sektor te kry om die regering se begroting van 700-miljoen-rand aan te vul vir volgende jaar se G20-spitsberaad in Suid-Afrika. Die party sê die begroting is minder as dié van ander ontwikkelende lande soos Indië, wat ongeveer ‘n miljard-rand aan hulle spitsberaad bestee het. Ryan Smith van die DA sê privaat befondsing sal druk op die nasionale begroting keer en verseker die spitsberaad bevorder ekonomiese groei, werkskepping en internasionale handel:
# Die Valke het die publiek gewaarsku om versigtig te wees vir mensehandelaars wat die internet gebruik om hul slagoffers te teiken. Dit volg nadat die Gautengse wetgewer onthul het meer as twee-duisend gevalle van mensehandel en ontvoering is aangemeld tussen Januarie en Maart. Paulina Sekgobela van die Valke het die syfers gegee tydens die bekendstelling van ‘n veldtog wat daarop gemik is om bewusmaking te verhoog en die stygende krisis te bekamp. Sy vra die versterking van pogings om mensehandel in Gauteng te bekamp:
# Die Vereniging van Staatsamptenare se waarnemende adjunkhoofbestuurder, Claude Naiker, sê die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming kan die aantal buitelandse burgers wat in Suid-Afrika werksaam is verminder, maar skenk nie aandag aan die land se vaardigheidstekort nie. Dit volg ná die onthulling dat ses-duisend-220 buitelandse burgers, insluitend permanente inwoners en tydelike werknemers, in die openbare sektor werk. Naiker het die noodsaaklikheid beklemtoon om Suid-Afrikaners toe te rus met die nodige vaardighede en kwalifikasies om doeltreffend vir werk te kan meeding, eerder as om net op wetgewing staat te maak.
# Rugby: SA Rugby waarsku ondersteuners om kaartjies vir die laaste Rugbykampioenskapstoets tussen Suid-Afrika en Argentinië net van Computicket of die Mbombela-stadion in Mpumalanga se kaartjiekantoor te koop en nie van twyfelagtige webblaaie nie. Kaartjies vir die kragmeting op die 28ste van die maand is reeds amper uitverkoop. SA Rugby sê ondersteuners moet versigtig wees vir aanlyn webblaaie wat beweer hulle het kaartjies te koop. Die wedstryd sluit vanjaar se kompetisie af na die kragmeting tussen die All Blacks en die Wallabies vroeër die dag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-876-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-506-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….