Nuus 18:00
BULLETIN 5 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA moedig die Tesourie aan om aan te sluit by gekoördineerde optrede teen die handelskrisis
# Minister Ramokgopa loof die herstel van Medupi se Eenheid 4
# En tennis: Raducanu stel een van Nadal se jarelange afrigters aan voor die Amerikaanse Ope
# Business Leadership South Africa vra dat die Nasionale Tesourie ingesluit moet word in gekoördineerde optrede teen die groeiende handelskrisis. Uitvoerende hoof Busisiwe Mavuso sê in haar weeklikse nuusbrief dringende optrede word benodig om sake-ondernemings te steun wat getref is deur die Amerikaanse handelstariewe van 30-persent – veral in die Oos- en die Wes-Kaap se vervaardiging- en landbousektor. Mavuso verwelkom die uitvoer-ondersteuningskantoor, maar sê ‘n handelskrisiskomitee word benodig om verdere werksverliese te keer en nywerhede bestendig te maak.
Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, vra intussen agressiewe bemarking en die verhoogde produksie van natuurlike diamante om die toenemende mededinging van laboratoriumgekweekte edelstene te bekamp. Mantashe het belanghebbendes in Kemptonpark gewaarsku dat die Amerikaanse tariewe Suid-Afrika se markaandeel kan verminder. Hy het ook ope dialoog aangemoedig om waardetoevoeging en benutting te bevorder, en sê natuurlike diamante moet bemark word om sy kulturele en ekonomiese waarde te behou:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het die herstel van Eenheid Vier van die Medupi-kragstasie in Limpopo geloof. Dit is weer aanlyn nadat dit vier jaar buite werking was as gevolg van ‘n reuse-fout. Ramokgopa het tydens ‘n oorsigbesoek aan Medupi en Matimba gesê die eenheid van 800-megawatt is binne die begroting herstel deur ’n uiteenlopende ingenieurspan. Die belastingbetaler het die koste van die elektrisiteitsproduksie gedra. Ramokgopa vra ’n fokus-verskuiwing na die bekostigbaarheid van elektrisiteit en die uitroei van interne faktore wat kostes opjaag.
# Die Siektebewaker van die Gautengse Gesondheidsdepartement, Mashaole Makwela, sê die provinsie se massa-inentingsveldtog teen masels en Duitse masels wil verseker dat leerders ten volle beskerm word. Volgens die department kry meer as 370 gevalle tans behandeling. Makwela het by die Laerskool Steve Biko in Orange Farm gesê die veldtog is gerig op skole en informele nedersettings reg oor Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni. Hy moedig ouers aan om toestemmingsvorms te teken om hul kinders te laat inent:
# Tennis: 2021 se kampioen, Emma Raducano, het een van die Spaanse meester Rafael Nadal se jarelange afrigters aangestel voor die Amerikaanse Ope. Die Britse nommer-een en Francisco Roig het net na Wimbledon begin saamwerk, en sy het hom nou voltyds aangestel. Roig het vir die meeste van Nadal se roemryke loopbaan saam met hom gewerk toe hy 22 Grand Slam-toernooie gewen het. Die 22-jarige Raducano sal in die Cincinnati-ope speel in die aanloop tot die Amerikaanse Ope wat die 24ste op Flushing Meadows in New York begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-299-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-379-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….