Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tiger Brands word beskuldig dat hy nie aanspreeklikheid wil aanvaar vir die listeriose-krisis nie
# Nog ‘n laboratorium-bevestigde A-pokkegeval word aangemeld en die totaal staan nou op 25
# En, rugby: Die Bok-groep word verdeel vir die twee toetse teen die Pumas
# Tiger Brands word daarvan beskuldig dat hy na ses jaar steeds aanspreeklikheid vermy vir die listeriose-uitbreking. Die maatskappy het nog nie verantwoordelikheid aanvaar of eise afgehandel nie, ondanks gevorderde genetiese bewyse wat besmette polonie van Tiger Brands se voedselverwerkings-aanleg in Polokwane met meer as 200 sterftes verbind. Richard Spoor Ingelyf se senior prokureur, Thamsanqa Malusi, het aan die media gesê die voortgesette regstaktiek en vertragings verleng die lyding van slagoffers en hul gesinne:
# Die Departement van Gesondheid het een nuwe A-pokke-geval bevestig, wat die totaal op 25 te staan bring sedert die begin van die uitbreking in Mei. Die jongste geval is ‘n 38-jarige man van Kaapstad wat tans tuis in afsondering en in ‘n bestendige toestand is. Die pasiënt het die tipiese simptome getoon, maar het nie onlangs gereis of wetend kontak gehad met ander gevalle nie. Foster Mohale van die departement sê ondanks die nuwe geval bly die risiko van wydverspreide oordrag laag:
# Die Gautengse Gesondheidskomitee het reageer op Tom London se wydgedeelde internetplasing oor pasiëntesorg in die Helen Joseph-hospitaal. Die komitee vra ‘n volledige verslag van die Gesondheidsdepartement oor die aansprake, en die versterking van klagtestelsels. Ezra Letsoalo van die komitee moedig die provinsie se inwoners aan om formele klagtekanale te gebruik omdat sosiale media-plasings dikwels nie die volledige konteks gee wat nodig is vir besliste optrede nie:
# Die Australiese polisie het met ’n internasionale soektog begin na ’n man wat glo warm koffie op ‘n baba van nege maande gegooi en ernstige brandwonde veroorsaak het. Paul Dalton van die Queensland-polisie sê die 33-jarige verdagte is landuit. Die baba was laat-Augustus by ‘n gesinspiekniek in ʼn park in Brisbane, toe ʼn onbekende reisende arbeider kokende koffie oor sy gesig en lyf gegooi het. Die polisie is in die duister oor die motief. Die man is onbekend aan die gesin en is glo nou in ʼn ander land.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het bevestig die nasionale groep word in twee verdeel vir die twee Rugbykampioenskapstoetse teen die Pumas. Die een groep sal Argentinië toe vlieg vir die eerste kragmeting op die 21ste, terwyl die res sal agter bly om te begin voorberei vir die laaste wedstryd in Mbombela ‘n week later. Volgens Erasmus het die toergroep reeds saam begin oefen. Suid-Afrika is tans boaan die punteleer met 18 punte en Argentinië op 10, wat beteken die Bokke het nog drie punte nodig om die titel te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-390-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-498-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….