Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA bevraagteken die minister se antwoorde oor haar bande met VBS-bank
# AfriForum vra plaaslike wetstoepassing te midde van speurdertekorte
# En, tennis: Drie onverwagte spelers haal die mans-halfeindronde van die Amerikaanse Ope
# ActionSA is ontevrede oor die minister van Justisie, Thembi Simelane, se antwoorde in vandag se vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie. Athol Trollip van ActionSA sê Simelane se antwoorde oor die omstrede lening, wat verbind word met die Polokwane-munisipaliteit en die ineengestorte VBS-bank, was teenstrydig. Hy glo ‘n onafhanklike ondersoek of ‘n hofsaak is nodig om die kommer uit die weg te ruim:
# AfriForum vra gedesentraliseerde polisiemagte by munisipaliteite en verwys na die landwye tekort an agt-duisend-595 speurders. Woordvoerder Jacques Broodryk sê hierdie tekort beïnvloed veral provinsies soos KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap en laat gemeenskappe kwesbaar. Hy stel die plaaslike indiensneming van speurders voor, soortgelyk aan die metropolisie, as ‘n oplossing om die doeltreffendheid van wetstoepassing te verbeter en die groeiende krisis aan te pak:
# Duitsland is gewillig om te help om Suid-Afrika se kragnetwerk-opknapping van 390-miljard-rand te befonds wat meer son- en windkrag wil inkorporeer. Die steun vorm deel van die Billike Energie-oordragvennootskap vir Suid-Afrika se verskuiwing van steenkool na hernubare energie. Die Duitse gesant, Rainer Baake, lig die behoefte uit aan belegging in die netwerk en spreek gewilligheid uit om nog fondse te verskaf. Die vennootskap is gekritiseer weens die stadige instelling daarvan, met kommer of Suid-Afrika sy uitlatingsteikens teen 2030 sal bereik.
# Die Amerikaanse Republikeinse presidentskandidaat, Donald Trump, het planne aangekondig om ‘n regeringsdoeltreffendheids-kommissie te skep, gelei deur die Suid-Afrikaans-gebore entrepreneur Elon Musk, as hy die verkiesing in November sou wen. Musk vra geen betaling, geen titel en geen erkenning nie. Trump het voor die New Yorkse Ekonomie-klub sy ekonomiese visie uiteengesit om korporatiewe belasting vir binnelandse vervaardigers te verminder en lae belastingsones in te stel.
# Tennis: Drie onverwagte spelers het deurgedring na die halfeindronde van die Amerikaanse Ope. Daar sal die eerste keer in 18 jaar ‘n Amerikaner in die eindstryd in New York wees, met die 12de gekeurde Taylor Fritz wat sy 20ste gekeurde landgenoot, Frances Tiafoe, die stryd aansê. Die 25ste gekeurde Brit Jack Draper het ook verras deur die voorlaaste ronde te bereik. Hy kom te staan teen die wêreld nommer een, Jannik Sinner, wat ‘n taai wedstryd verwag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-115-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-506-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….