Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika en China onderteken agt ooreenkomste
# Twee aanklagte van onsedelike aanranding word laat vaar teen Harvey Weinstein in Brittanje
# En die Universiteit Stellenbosch stel professor Deresh Ramjugernath aan as sy nuwe rektor en vise-kanselier
# President Cyril Ramaphosa het bevestig talle ooreenkomste is onderteken op die forum oor samewerking tussen China en Afrika, wat die intrede vergemaklik van Suid-Afrikaanse produkte in China. Ramaphosa het president Xi Jinping die versekering gegee sy administrasie bly gefokus op ekonomiese groei, werkskepping en die bou van staatsvermoë. Hy beklemtoon die verhoging van handel tussen die twee lande, aandag aan werkloosheid en die verbetering van plaaslike regering:
Die kabinet het intussen besluit op ‘n benadering van geen-verdraagsaamheid teenoor afpersing, en is bewus van die skadelike uitwerking op individue en die ekonomie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens word met gevorderde intelligensietoerusting en gespesialiseerde taakmagte toegerus om doeltreffend teen afpersing op te tree. Die waarnemende minister in die Presidensie, Maropene Ramokgopa, het aan joernaliste gesê die regering gebruik die beste internasionale praktyke om strategieë vir afpersing te ontwikkel, met ʼn verenigde poging deur wetstoepassing, die sakewêreld en gemeenskappe:
# Britse owerhede het besluit om twee aanklagte van onsedelike aanranding teen die onteerde Hollywood-vervaardiger, Harvey Weinstein, te laat vaar aangesien hulle glo daar is nie ʼn redelike kans op sukses nie. Die aanklagte spruit uit beweerde aanvalle op ʼn vrou in Londen in 1996. Die 72-jarge Weinstein is die mede-stigter van Miramax wat lokettreffers soos Pulp Fiction en Shakespeare in Love vervaardig het. Hy is afgedank by Miramax en geskors uit die Academy of Motion Picture Arts and Sciences nadat talle vroue hom in 2017 van seksuele misbruik begin beskuldig het.
# Krieket: Engeland se kaptein, Jos Buttler, sal nie betyds fiks wees vir die reeks van drie T20’s teen Australië nie. Die 33-jarige het in die Wêreldbekertoernooi in Junie ‘n kuitbesering opgedoen en onlangs ‘n terugslag beleef. Phil Salt sal die span lei, terwyl Harry Brook na verwagting die kaptein sal wees in die eendagreeks teen Australië as Buttler steeds buite aksie sou wees. Die T20-reeks begin Woensdag in Southampton, en die eerste van die vyf eendagwedstryde word die 19de op Trent Bridge gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-826-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-514-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit Stellenbosch het professor Deresh Ramjugernath aangestel as sy 13de rektor en visekanselier. Hy dien tans as adjunk-visekanselier vir leer en onderrig en sal sy nuwe amp in April volgende jaar inneem, as opvolger van professor Wim de Villiers. Ramjugernath het uitvoerige ondervinding in hoër onderwys en sal saamwerk met De Villiers tot sy aftrede om ‘n geordende oorgang te verseker. Volgens die universiteit volg die aanstelling op ‘n volledige keuringsproses en word deur die raad verwelkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….