Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek miljoene in Eskom-kontrakte
# Verbruikers word gewaarsku teen ‘n kooptog na tweepot-onttrekkings
# En SA Rugby vra verskoning aan Nieu-Seeland vir die oordondering van die Haka op Ellispark
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het die groen lig van president Cyril Ramaphosa ontvang om nege omstrede Eskom-kontrakte ten bedrae van miljarde rand te ondersoek, insluitend dié wat met Gupta-verwante maatskappye verbind word. Die ondersoek dek steenkoolverkryging, voorafbetalings en IT-dienskontrakte. Die eenheid sal sy ondersoek uitbrei na sake wat deur die staatskapingsondersoek uitgewys is en voortgesette strafregtelike ondersoeke, insluitend ‘n voorafbetaling aan Tegeta vir ʼn steenkooltransaksie van 659-miljoen-rand.
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, waarsku verbruikers teen ʼn kooptog na tweepot-onttrekkings. Die stelsel is nou van krag en laat voor aftrede toegang tot ʼn derde van aftreefondse toe. Kganyago waarsku inflasie kan opgejaag word indien hierdie fondse vir aankope gebruik word in plaas van om skuld te verminder. Vakbondfederasies soos Saftu kritiseer steeds die stelsel en beskryf dit as ʼn bedrogspul wat nie die nodige finansiële verligting aan werkers gaan bied nie.
# Die DA het kommer uitgespreek oor die voortgesette smokkel van verbode goedere in Suid-Afrikaanse tronke, met 13 amptenare wat ondersoek word. Die DA se woordvoerder oor Korrektiewe Dienste, Janho Engelbrecht, sê ondanks toenemende klopjagte sypel items soos dwelms steeds die inrigtings binne. Hy vra gevolgebestuur en aanspreeklikheid vir diegene wat betrokke is:
# Rugby: SA Rugby het Nieu-Seeland om verskoning gevra omdat die einde van die Haka Saterdag feitlik onhoorbaar was voor die Rugbykampioenskapstoets tussen die Springbokke en die All Blacks op Ellispark. Die oorlogskreet is byna oordonder deur vuurwerke, musiek en die oorvlug van ʼn vliegtuig van die stadion se hoofborg. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, het sy spyt uitgespreek en verskoning oorgedra aan Nieu-Seeland Rugby. Hy sê dit was nooit die bedoeling om iets anders te skeduleer wat sou saamval met so ‘n ikoniese oomblik nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-135-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-497-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-83-sent per vat.
# En ten slotte: Die Tafelberg-sweefspoor het heropen nadat dit vir sewe weke lank gesluit was vir instandhouding. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het bevestig meer as sewe-duisend kaartjies is vandag verkoop aan die begin van Toerismemaand. Hy het Suid-Afrikaners ook aangemoedig om vir Tafelberg te stem as die voorste toeriste-aantreklikheid in Afrika in die Wêreld-reistoekennings vir 2024:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….