Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die borgtogaansoeke word uitgestel van die drie mans wat beskuldig word van die varkhok-moorde op ‘n plaas in Limpopo
# Ramaphosa verbind hom tot beter misdaadbestryding met die Wes-Kaapse samewerkingsooreenkoms
# En tennis: Die Nederlander Botic van de Zandshulp het uittrede oorweeg voor hy Alcaraz in New York gestuit het
# Drie mans wat aangekla word van die moord op twee vroue op ‘n plaas in Limpopo bly in aanhouding nadat die Landdroshof in Mankweng hulle borgtogaansoeke uitgestel het tot 10 September. Die plaaseienaar Zachariah Olivier en sy twee werknemers, William Musora en Adriaan de Wet, is in hegtenis geneem nadat die liggame van Maria Makgato en Lucia Ndlovu in ‘n varkhok aangetref is. Ndlovu se man is ook geskiet, maar het weggekom. Die mans word ook aangekla van poging tot moord, die besit van ‘n onwettige vuurwapen en regsverydeling.
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is verbind tot misdaadbestryding in die Wes-Kaap met die ondertekening van ‘n nuwe samewerkingsooreenkoms. Dit verenig die nasionale en provinsiale regering, plaaslike regerings, die Polisiediens, en gemeenskapsorganisasies om wetstoepassing te verbeter deur hulpbronne te deel en saam te werk. Ramaphosa het die inwoners van Belhar in Kaapstad gevra om hierdie pogings te steun om gemeenskappe van misdadigers terug te wen:
# AfriForum het kommer uitgespreek oor Suid-Afrika se jongste misdaadstatistieke wat ‘n toename van drie-duisend-831 in geweldsmisdade in die eerste kwartaal van 2024/’25 toon. Jacques Broodryk van AfriForum moedig die minister van Polisie, Senzo Mchunu, aan om vennootskappe te formaliseer met burgerlike veiligheidsgroepe om openbare veiligheid te verbeter en doeltreffend die land se misdaadkrisis te hanteer:
# Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie sê hy steun akademici van die Universiteit van Kaapstad se regsoptrede teen die raad van die instelling wat anti-Israelse besluite deurgevoer het. Die federasie waarsku dit kan ‘n negatiewe uitwerking hê op die universiteit se vermoë om skenkings in te win, op akademiese vryheid en die omgewing vir Joodse studente. Rolene Marks van die organisasie sê die besluite kan uitloop op aansienlike finansiële verliese en regskomplikasies weens Amerika se anti-boikotwette:
# Tennis: Die leeutemmer van die Amerikaanse Ope, Botic van de Zandschulp, sê hy het drie maande gelede nog uittrede oorweeg. Hy het ‘n reuse-opskudding veroorsaak toe hy die derde-gekeurde Carlos Alcaraz in New York verslaan het terwyl die Spanjaard een van die gunstelinge was nadat hy reeds vanjaar die Franse Ope en Wimbledon ingepalm het. Die 28-jarige Nederlander sê hy was moeg vir ‘n knaende besering en sy moed is gebreek deur vroeë nederlae omdat hy op nommer 74 op die wêreldranglys moeilike teenstanders gekry het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-249-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-516-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….