Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA span saam met die ANC, die EFF en ACDP vir die verwydering van Tshwane se burgemeester
# Zuma se korrupsie-voorverhoor word uitgestel tot 11 September
# En, Paralimpiese Spele: ‘n Jong Suid-Afrikaanse swemmer kwalifiseer vir die eindronde in Parys
# ActionSA het aangekondig hy sal aansluit by die ANC, die EFF en ACDP in ‘n poging om ontslae te raak van die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, en die DA-geleide veelpartykoalisie uit te daag. News24 berig die vier partye wil Brink môre verwyder met ‘n wantrouemosie. Brink het geskryf aan die speaker van die raad en betoog hy is nie genoeg tyd gegee om homself te verdedig nie. Hoewel geen formele koalisie gevorm is nie, sal samesprekings volg oor die toekomstige leierskap en ‘n moontlike koalisie. Die DA daag die wettigheid van die mosie in die hof uit.
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het die voorverhoor oor korrupsie met die wapentransaksie van oudpresident Jacob Zuma tot 11 September uitgestel. Hy sal vanaf 14 April volgende jaar tereg staan op aanklagte van korrupsie en geldwassery. Regter Nkosinathi Chili sal later redes verskaf waarom hy Zuma se aansoek verwerp het om aanklaer Billy Downer van die saak te verwyder. Zuma se advokaat, Dali Mpofu, het aangevoer buitengewone omstandighede regverdig ‘n verduideliking van die besluit. Chili het saamgestem en sal sy redes oor twee weke bekend maak:
# Die Griekwastad-moordenaar is parool geweier. Hy was maar net 15 toe hy sy ouers, Deon en Christel Steenkamp, en 14-jarige suster, Marthella, in 2012 in hulle Noord-Kaapse plaashuis vermoor het. Die Hooggeregshof het hom later tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis op elkeen van die moordaanklagte, 12 jaar vir die verkragting van Marthella en vier jaar vir regsverydeling. Hy mag nie geïdentifiseer word nie want hy was destyds minderjarig. Volgens Korrektiewe Dienste het hy die voorgeskrewe tyd uitgedien, maar wou nie besonderhede verskaf oor waarom parool geweier is nie.
# AfriForum en die Suider-Afrika Agri-inisiatief, SAAI, doen ‘n beroep op Interpol om pogings op te skerp teen toenemende oorgrens-veediefstal tussen Suid-Afrika en Lesotho. Hulle glo veeboerdery is lewensbelangrik vir die streek se ekonomie en voedselsekerheid, en vra beter beoordeling van misdaadsindikate en meer steun vir plaaslike wetstoepassing. SAAI se uitvoerende direkteur, Theo de Jager, sê ‘n robuuste moniteringsraamwerk is nodig teen dié misdade ter wille van die veiligheid van die gemeenskappe wat geraak word:
# Paralimpiese Spele: Die jong Suid-Afrikaanse swemmer Nathan Hendricks het gekwalifiseer vir die eindronde van die mans 100-meter vlinderslag in die S13-klas. Hy was vierde in sy uitdun in Parys. Die agtienjarige van Middelburg in Mpumalanga is een van die jongste lede van Span Suid-Afrika. Hy ding ook mee in die S13 200-meter individuele wisselslag, die 100-meter rugslag en die SB13 100-meter borsslag. Hendricks is as baba gediagnoseer met diabetes, en later met die genetiese oogsiekte Stargardt.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-564-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….