Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bevorder inklusiewe groei en venootskap met Business Unity South Africa
# Die ANC se wantrouemosie in burgemeester Brink is môre op Tshwane se raadsagenda
# En, tennis: Evans klop Khachanov in die langste wedstryd nog op die Amerikaanse Ope
# President Cyril Ramaphosa sê die versterking van die vennootskap tussen die regering en die sakegemeenskap is noodsaaklik vir die aanvuur van inklusiewe groei. Die president het op die jaarvergadering van Business Unity South Africa voorgesette samewerking aangemoedig om werk te skep, armoede te verlig, en te belê in sleutelsektore soos tegnologie en hernubare energie. Ramaphosa vra voortgesette steun met vaardigheidsopleiding en kleinsake-ontwikkeling om billike welvaart en volhoubare ekonomiese vordering vir alle burgers te verseker:
# Die ANC se wantrouemosie in die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, is môre op die raad se agenda. Daar is steeds onsekerheid oor ActionSA se standpunt oor steun vir die ANC en of hy deel bly van die DA-geleide koalisie. Brink beklemtoon die belangrikheid van bestendige bestuur vir die stad:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens vra verbeterde vroeë waarskuwingstelsels om gemeenskappe tydens weerrampe by te staan. Die uitvoerende hoof van die diens, Ishaam Abader, het tydens ‘n nasionale raadgewende slypskool van die Verenigde Nasies-gesteunde Vroeë Waarskuwings vir Almal-veldtog gesê die huidige stelsels moet opgradeer word, veral in landelike gebiede. Die drie-daagse geleentheid is gerig op die verspreiding van verbeterde vroeë waarskuwings en kommunikasie, om seker te maak weerwaarskuwings bereik alle gemeenskappe, insluitend die onderskeie taalgroepe in die land.
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid in Limpopo het verskeie regeringsgeboue gesluit weens veiligheidsgevare. Geboue in Bela-Bela, Makhado en Thohoyandou is gesluit na inspeksies wat ernstige gevare ontbloot het, waaronder strukturele risiko’s en onveilige elektriese installasies. Die departement se woordvoerder, Teboho Thejane, sê arbeidsentrums sal voorlopig tot volgende Vrydag beskikbaar wees by die skouterrein in Makhado:
# Tennis: Die eersteronde-wedstryd tussen die 23ste gekeurde Rus, Karen Khachanov, en die ongekeurde Brit, Daniel Evans, is nou die langste wedstryd in die geskiedenis van die Amerikaanse Ope. Dit het vyf-uur-35-minute geduur voordat Evans van stroop-4 teruggeveg het om die laaste stel 6-4 te beklink. Elke stel het langer as ‘n uur geduur. Die vorige rekord was tussen Stefan Edberg van Swede en die Amerikaner Michael Chang, wat vyf-uur-26-minute lank sake uitgespook het in die halfeindronde van 1992 voor Edberg gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-796-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-508-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….