Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistieke SA-verslag toon ‘n skerp toename in individuele misdade oor vyf jaar
# Solidariteit onthul ‘n veldtog om geskoolde beroepslui met die regering en privaat sektor te belyn
# En, sokker: Die beseerde Lionel Messi is uit Argentinië se Wêreldbeker-kwalifiseerders teen Chili en Colombië
# Statistieke Suid-Afrika se 2023-’24-verslag oor Slagoffers van Misdaad onthul aansienlike toenames in individuele misdade oor die afgelope vyf jaar. Statistikus-generaal Risenga Maluleke berig 1,1-miljoen mense het straatrooftogte beleef, wat ‘n toename van sewe-persent is. Verbruikersbedrog het 700-duisend individue geraak – ‘n styging van 16-persent, terwyl aanrandingsake met 36-persent gestyg het tot 650-duisend. Maluleke waarsku dat kapings en seksuele aanranding ook skerp gestyg het:
# Die vakbond, Solidariteit het ‘n nuwe platform bekendgestel om ‘n tekort aan vaardighede te vul deur geskoolde werkers met behoeftes in die regering en privaat sektor te verbind. Die veldtog wil geskoolde beroepslui in kritieke gebiede soos ingenieurswese, medisyne en inligtingstegnologie met mekaar verbind. Solidariteit se uitvoerende hoof, Dirk Hermann, sê die gratis platform bou voort op vorige suksesse en is ontwerp om vaardighede met werksgeleenthede vir alle gekwalifiseerde individue te belyn:
# Die Tesourie is besig met die hersiening van tot 60 toelaes vir munisipaliteite en provinsies om befondsing te verbeter vir behoeftes soos die billike energie-oordrag. Volgens die adjunkminister van Finansies, David Masondo, sluit die hersiening in die versekering van deursigtigheid en doeltreffendheid met toelaebesteding, en die hervorming van regulasies vir openbare-privaat vennootskappe. Die Tesourie ontwikkel ook nuwe befondsingsmodelle vir munisipaliteite te midde van Suid-Afrika se veranderende energielandskap. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, beklemtoon dat die betaling van munisipale skuld deurslaggewend is vir hulle finansiële lewensvatbaarheid en dienslewering.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê hy is geskok en hoogs ontsteld oor ‘n onlangse foto van twee leerders van die Hoërskool Plumstead in Kaapstad wat op sosiale media versprei is. Die twee is afgeneem met vuurwapens en drank terwyl hulle in skooluniform was. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê die saak word ondersoek en die leerders is tydelik geskors. Makaneta sê die gedrag kan nie by skole geduld word nie:
# Sokker: Argentinië se kaptein, Lionel Messi, is beseer en sal nie kan speel in die Wêreldbeker-kwalifiseerders teen Chili en Colombië nie. Die 37-jarige speler het sy enkel beseer toe Argentinië Colombië verlede maand in die eindstryd van die Copa America geklop het. Paulo Dybala keer die eerste keer sedert Maart verlede jaar terug. Die wêreldkampioen is tans boaan die lys van kwalifiserende spanne vir Suid-Amerika, met die ses boonste spanne wat outomaties kwalifiseer. 2026 se Wêreldbekertoernooi word gesamentlik aangebied deur Amerika, Kanada en Mexiko.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-890-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-516-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….