Nuus 18:00
BULLETIN 4 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola bevestig ‘n nuwe ambassadeur na Amerika sal binnekort aangewys word
# Sokker: Lionel Messi gaan onbepaald op die kantlyn wees met ‘n besering
# En Suid-Afrika en Zimbabwe verenig om ‘n Guinness-wêreldrekord vir marimba-samespel te verbeter
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die afwesigheid van ‘n Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington het geen invloed op die handelsamesprekings met Amerika gehad nie. Hy het gepraat tydens ‘n gesamentlike nuuskonferensie met die Ministerie van Handel, Nywerheid en Mededinging. Lamola het bevestig president Cyril Ramaphosa sal binnekort ‘n nuwe ambassadeur aankondig, maar sê die besluit sal versigtig en sonder invloede van buite geneem word:
# Die Parlement se gekose komitee oor Openbare Infrastruktuur versoek verdere hervorming in Suid-Afrika se infrastruktuur-leweringstelsels. Dit volg nadat die uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka, as voorsorgmaatreël geskors is ná ‘n forensiese verslag van PricewaterhouseCoopers bevind het sy het nie ingegryp toe waarskuwings uitgereik is oor ‘n suurstofaanlegtender van 836-miljoen-rand nie. Die voorsitter, Rikus Badenhorst, noem dit ‘n duidelike stap in die rigting van gevolgebestuur en bepleit verdere hervormings om openbare vertroue te herstel:
# Die vakbond Fawu het Suid-Afrikaanse Brouerye en sy moedermaatskappy, AB InBev, veroordeel oor sy beoogde aflegging van 233 werkers. Die vakbond glo die proses was gejaagd en onregverdig, en ignoreer die uitspraak van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie om belangrike dokumente te oorhandig. Dominique Martin van FAWU sê werkers word gedwing om weer aansoek te doen om hulle poste onder onregverdige toestande en kennis te gee voor formele afleggings:
# Sokker: Inter Miami sê kaptein Lionel Messi sal onbepaald op die kantlyn wees ná ‘n geringe spierbesering in sy regterbeen. Die 38-jarige Argentyn het die besering Saterdag opgedoen tydens ʼn Ligabeker-wedstryd teen die Mexikaanse span, Necaxa, in Florida. Die wedstryd het gelykop geëindig met twee-elk. Die klub sê Messi se mediese goedkeuring sal afhang van sy vordering en reaksie op behandeling. Messi loop in die Major League-sokkerseisoen gesamentlik voor met 18 doele, en nege bydraes tot doele in 18 wedstryde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-413-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-376-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-35-sent per vat.
# En laastens, ʼn nuwe wêreldrekord is ʼn Kaapstad opgestel toe een-duisend-276 marimba-spelers saam by die Grand West Arena opgetree het. Die geleentheid het die Guinness-wêreldrekord vir die grootste marimba-samespel verbeter. Die vorige wêreldrekord was 550 spelers tydens ʼn geleentheid in Guatemala. Die samespel het talentvolle musikante tussen agt- en 62-jaar byeengebring. Die kinders kom van meer as 70 skole in Suid-Afrika en twee van Zimbabwe. Die groep het tien minute lank ʼn keurspel gespeel wat liedjies soos Waka Waka en Jerusalema ingesluit het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….