Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verseker inwoners van Tsakane hulle bekommernisse sal aandag kry
# Die IRR vra vir ‘n BTW-verlaging na 11,5-persent om die finansiële druk op Suid-Afrikaners te verlig
# En, Parysenaars is baie gretiger om die Paralimpiese Spele by te woon as die Somerspele
# President Cyril Ramaphosa het die publiek op die presidensiële imbizo in Tsakane in Ekurhuleni, Gauteng, die versekering gegee daar word deeglik kennis geneem van hulle kommer, en dit sal deur die toepaslike ministers hanteer word. Ramaphosa sê die regering is daartoe verbind om die land se uitdagings die hoof te bied deur ‘n verenigde benadering, met al die kwessies wat geopper word wat gesamentlik gepak word deur die regering van nasionale eenheid:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge versoek die regering om BTW van 15- tot 11,5-persent te verlaag om finansiële druk op verbruikers te verlig. Die instituut glo hoё lewenskoste en skuldbetalings plaas huishoudings onder druk, veral huiswerkers en die middelklas. Hulle voer aan ‘n BTW-verlaging kan betekenisvolle verligting bring en ekonomiese groei aanhelp sonder om regeringskuld te vergroot of dienste in te kort. Woordvoerder Gabriel Crouse versoek ‘n hersiening van openbare verkrygingswette om staatsbesteding in te kort om moontlik die voorgestelde verlaging van BTW te befonds:
# AgriSA doen ‘n beroep vir meer deursigtigheid terwyl die Departement van Water en Sanitasie sy konsep- watertariefstrategie vir die eerste keer sedert 2007 bywerk. Die organisasie sê hoewel dit noodsaaklik is om waterinfrastruktuur op billike wyse te befonds, moet die nuwe tariewe volhoubare waterbestuur met die ekonomiese en maatskaplike voordele van boerdery balanseer. Volgens AgriSA is duidelike kommunikasie noodsaaklik oor hoe watertariewe bereken en gebruik word, ten einde te verseker landbou bly volhoubaar en ondersteun voedselsekerheid.
# Die polisie in Ysland het ‘n noodtoestand afgekondig nadat ‘n vulkaan uitgebars het, met huise wat ontruim moes word. Die uitbarsting op die Reykjanes-skiereiland in die suidweste van Ysland, is die sesde sedert Desember. Die land se Weerdiens het dae voor die uitbarsting verhoogde seismiese bedrywighede en aardbewings by Sundhnukar opgemerk. ‘n Groot skeur het daar naby ontstaan, met lawa wat oos- en weswaarts vloei. Daar was sedert 2021 nege uitbarstings in die gebied. Die geologiese stelsel was voor dit vir 800 jaar rustend.
# Paralimpiese Spele: Die inwoners van Parys koop flink kaartjies vir die byeenkoms wat Woensdag in die Franse hoofstad begin, nadat hulle neus opgetrek het vir die Somer-spele. Reuters berig tientalle Parysenaars het die stad voor die Olimpiese Spele verlaat weens vrese oor ontwrigting en verkeersprobleme. Die Paralimpiese atlete sal hulle toelaat om Olimpiese sportsoorte op dieselfde plekke te beleef. Die organiseerders sê 92-persent van die 1,75-miljoen kaartjies wat reeds vir die Paralimpiese Spele verkoop is, is deur Franse opgeraap – die meeste van hulle uit Parys en omstreke.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-967-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-511-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….