Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party onthul sy nasionale opperbevel as sy top besluitnemingsliggaam
# Die Kabinet vra mans om Ramaphosa se belofte teen geslagsgeweld te onderteken
# En Botswana onthul die grootste diamant wat nog in die land ontdek is
# Die MK-party het sy nuwe hoogste besluitnemingsliggaam voorgestel wat bekend staan as die nasionale opperbevel. Sleutelfigure sluit in partyleier Jacob Zuma, adjunkpresident John Hlophe, nasionale voorsitter Nkosinathi Nhleko en nasionale organiseerder Floyd Shivambu. Sekretaris-generaal Sfiso Maseko het aan die media gesê die bevel sal aan die stuur staan van die party se groei en strategieë, terwyl dit voorberei vir die plaaslike regeringverkiesings in 2026:
# Die kabinet moedig mans aan om president Cyril Ramaphosa se belofte teen geslagsgeweld te onderteken. Die oproep om optrede is deel van die regering se voortgesette pogings om geslagsgeweld en vrouemoord uit te roei. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het op ‘n nuuskonferensie ‘n beroep gedoen op mans om ‘n kultuur van resprek en aanspreeklikheid te koester, en vra hulle om aktief veldtogte te steun om geweld teen vroue en kinders te beëindig:
# Die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Vloot, het die Chinese hospitaalskip, Peace Ark, verwelkom in Kaapstad se V&A Waterkant. Die skip, wat van vandag tot volgende Donderdag hier is, vorm deel van die gesamentlike humanitêre oefening Mission Harmony, gemik op die versterking van militêre en diplomatieke bande. Die diens se woordvoerder, Phillip Makopo, sê die skip, met meer as 100 mediese personeel aan boord, sal verskeie gesondheidsdienste vir plaaslike gemeenskappe aanbied, waaronder operasies en mediese sorg:
# Tennis: Die Italianer Jannik Sinner en Iga Swiatek van Pole is die topgekeurdes vir die Amerikaanse Ope wat Maandag in New York begin. Al die topspelers het ingeskryf vir die jaar se vierde en laaste Grand Slam-toernooi. Onder die mans is Novak Djokovic van Serwië tweede gekeur, gevolg deur Carlos Alcaraz van Spanje, die Duitser Alexander Zverev en die Rus Daniil Medvedev. Aryna Sabalenka van Belarus is die tweede gekeurde vrou, gevolg deur die plaaslike speler Coco Gauff, Elena Rybakina van Kazakstan en die Italianer Jasmine Paolini.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-578-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-476-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Botswana het die ontdekking aangekondig van ‘n diamant van twee-duisend-492-karaat, wat moontlik die land se grootste ooit is, en wêreldwyd die tweede grootste. Die Kanadese mynmaatskappy Lucara Diamond Corporation het die ongeslypte diamant in die Karowe-myn ontdek en dis ongeskonde herwin met die gebruik van X-straal-tegnologie. Die ontdekking onderstreep Botswana se posisie in die diamantbedryf. Die juweel word vandag uitgestal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….