Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Korrektiewe Dienste bereik sy inspeksie-teiken ondanks uitdagings
# Sinawo Tambo gaan Floyd Shivambu in die Parlement vervang vir die EFF
# En, rugby: Kitshoff, Hendrikse en Moodie is terug in die Springbokgroep wat die All Blacks pak
# Die Regterlike Inspektoraat vir Korrektiewe Dienste het sy teiken vir gevangenis-inspeksies bereik. Die direkteur, Thembelihle Nhlanzi-Ngema, het voor die Parlement se portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste gewys op voortslepende kwessies, waaronder infrastuktuur wat agteruitgaan, oordadige eensame aanhouding en onvoldoende opvoeding. Sy lig ook kommer uit oor magsgebruik en onbekostigbare borgtog, en beklemtoon hervorming is nodig:
# Die leier van die EFF, Julius Malema, het die gewese adjunkpresident, Floyd Shivambu, se magte hertoegeken nadat hy na die MK-party oorgeloop het. Sinawo Tambo sal Shivambu in die Parlement vervang en Nazier Paulsen neem oor by Mzwanele Manyi, wat ook by MK aangesluit het. Marshall Dlamini is reeds aangewys as die EFF se nuwe hoofsweep. Die adjunkpresidents-posisie sal gevul word op die EFF se leierskapskonferensie in Desember.
# Die Demokratiese Verpleegorganisasie van Suid-Afrika verwerp die betaling van ‘n uniformtoelae deur die Departement van Gesondheid na ‘n spesiale vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee. Die adjunkhoofsekretaris, Khaya Sodidi, voer aan die eenmalige betaling van net meer as drie-duisend-rand is onvoldoende vir verpleegkundiges om behoorlike uniforms te koop. Hy waarsku oor moontlike versetoptrede indien die departement nie aan hierdie eis te voldoen nie:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het Steven Kitshoff, Jaden Hendrikse en Canan Moodie ingesluit in die groep vir die Kampioenskapstoetse teen Nieu-Seeland. Erasmus het ook vir Jasper Wiese, André Esterhuizen en die slot Nicolaas Janse van Rensburg teruggeroep. Hy het besluit om die groep te vergroot van 33 tot 37 spelers vir die twee uitverkoopte toetse teen hulle aartsvyande. Die slotte Franco Mostert, Lood de Jager en Jean Kleyn is nog beseer. Morné van der Berg en Johan Grobbelaar is uitgelaat uit die groep.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-242-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-526-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-15-sent per vat.
# En ten slotte: Die 42-jarige olifant, Charlie, is uit die Pretoriase Dieretuin hervestig in die Shambala privaat reservaat in Limpopo. Die stap is moontlik gemaak deur die EMS-stigting se Towards Freedom-program en die Pro-olifant Netwerk. Dis die eerste keer dat ‘n olifant uit die dieretuin weer in die natuur vrygelaat is. Charlie is op tweejarige ouderdeom in Zimbabwe gevang en het 40 jaar in aanhouding deurgebring. Kundiges sal sy nuwe reis noukeurig dophou, en die dieretuin se olifant-kamp is nou permanent gesluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….