Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ministerie van Elektrisiteit en Energie hersien die kernverkrygingsproses vir groter openbare vertroue
# Amcu betreur die gebrek aan toerekenbaarheid 12 jaar na die Marikana-slagting
# En, Olimpiese Spele: Pole wil sy eerste Spele aanbied in 2040 of ’44
# Die Ministerie van Eelektrisiteit en Energie hersien sy kernverkrygingsproses om openbare vertroue te versterk na bekommernisse oor deursigtigheid. Dit is daarop gemik om aandag te gee aan geheimsinnigheid en te verseker die proses is oop, toerekenbaar en inklusief vir belanghebbers-insette. Minister Kgosientsho Ramakgopa gee voorkeur aan deursigtigheid en openbare betrokkenheid in die proses, en herbeklemtoon vertroue in die kernbouprogram:
# Die mynwerkersvakbond Amcu kritiseeer die gebrek aan toerekenbaarheid 12-jaar na die Marikana-slagting waarin 34 mense dood en 78 beseer is. Amcu se president, Jospeh Mathunjwa, sê hoewel die Farlam-kommissie in 2014 na ‘n koste van 150-miljoen-rand sy taak afgehandel het, is niemand nog aanspreeklik gehou nie. Hy sê geregtigheid bly ontwykend, en vra dringende hervormings aan die land se wetstoepassingstelsel:
# Build One South Africa sê hy het afgekom op korrupsie in die Gautengse Departement Ekonomiese Ontwikkeling waar 100-miljoen-rand vir township-entrepreneurs glo wanaangewend is. BOSA beskuldig Family Tree Holdings dat hy entrepreneurs bedrieg en geld verduister het. Die organisasie vra ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid, ‘n hersiening deur die Openbare Beskermer, en die bedanking van die Gautengse LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile. Bosa eis ook die vestiging van township-spesiale ekonomiese sones om werkskepping en ekonomiese groei te stimuleer.
# Olimpiese Spele: Pole beplan om te bie vir die Spele in 2040 of ’44. Eerste minister Donald Tusk sê die besluit word toegewy aan die jong atlete van vandag. President Andrzej Duda het verlede jaar aangekondig die land wil ‘n bod indien vir 2036. Pole het nog nooit tevore die Spele aangebied nie, maar het in 2012 die Europese Sokkerkampioenskap saam met Oekraïne aangebied, en was verlede jaar gasheer vir die Europese Spele. Die Duitse hoofstad, Berlyn, wil ook die Spele in 2040 aanbied, na ‘n afwesigheid van 104 jaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-235-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-486-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: Professor Derek Yu van die Universiteit van die Wes-Kaap sê in ‘n betekenisvolle verskuiwing die afgelope tien jaar het getroude vroue in Suid-Afrika dieselfde opvoedingsvlak as hulle manlike eweknieë bereik. Dit het gelei tot ‘n merkbare verbetering in arbeidsmark-uitkomste. Yu sê die gaping tussen mans en vroue is aansienlik vernou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….