Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SA wil buitelandse beleid rig volgens sy ekonomiese belange
# ‘n Ekonoom vra dringende ekonomiese hervormings weens die stygende werkloosheid
# En, sokker: Erling Haaland is in die wedloop om die tweede agtereenvolgende keer as Speler van die Jaar aangewys te word
# Die regering beplan sy buitelandse beleid volgens sy ekonomiese belange, ‘n verskuiwing onder wat hy beskou as ‘n meer sakevriendelike koalisieregering. Die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, beklemtoon die integrasie in handel, finansies en buitelandse beleid om regstreekse buitelandse beleggings te bevorder en plaaslike industrialisasie te ondersteun. Hierdie herbelyning moet gespanne verhoudings met sleutel-handelsvennote in die Weste herstel. Lamola sê ondanks die fokus op ekonomiese groei, handhaaf Suid-Afrika sy ferm standpunt teenoor Israel se optrede in Gaza en kyk na afdwingingsmoontlikhede van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad.
# Die ekonoom Raymond Parsons versoek dringende ekonomiese hervormings weens die stygende werkloosheidskoers, wat volgens die jongste kwartaallikse arbeidsmagopname tot 33,5-persent toegeneem het. Parsons sê swak ekonomiese groei en ‘n teleurstellende bruto binnelandse produk wys op die noodsaaklikheid vir dringende strukturele veranderings. Hy vra versnelde hervormings om groei met nuwe werksgeleenthede veral onder die jeug te stimuleer en sakevertroue te verbeter wat daarop gemik is om werkloosheid te verminder en ‘n meer volhoubare ekonomiese toekoms te skep:
# Dada Morero van die ANC gaan die volgende burgemeester van Johannesburg wees. Die huidige burgemeesterskomiteelid vir Finansies het na vore getree as die party se keuse vir die rol nadat Kabelo Gwamanda bedank het onder reuse-druk van opposisiepartye en die burgerlike gemeenskap. Die ANC se streeksekretaris, Sasabona Manganye, het op ‘n nuuskonferensie gesê Morero, wat in 2022 vir ‘n kort rukkie burgemeester was, sal die stad lei en diensleweringskwessies aanpak:
# Iran het Westerse oproepe verwerp om nie wraak te neem op Israel vir die sluipmoord op Hamas se politieke leier, Ismail Haniyeh, in Teheran nie. Die Islamitiese Republiek en sy bondgenote beskuldig Israel van Haniyeh se moord tydens ‘n besoek aan die Iranse hoofstad vir die inhuldiging van president Mahmoed Pezeshkian. Israel het nie kommentaar gelewer nie. Iran het beloof om die moord te wreek, wat gevolg het slegs ure nadat ‘n Israelse aanval in Beiroet gelei het tot die dood van ‘n senior bevelvoerder van die Irans-gesteunde Hizbollah- militantegroep in Libanon.
# Sokker: Manchester City se doelskieter, Erling Haaland, kan die tweede agtereenvolgende jaar aangewys word as Speler van die Jaar van die Vereniging van Beroepsokkerspelers nadat hy saam met sy spanmaats, Phil Foden en Rodri, benoem is. Haaland het 38 doele in alle kompetisies behaal met City wat die Premierligatitel ‘n ongeëwenaarde vierde keer ingepalm het. Rodri was ‘n sleutelspeler in die middelveld met hulle Premierliga-triomf en het Spanje ook gehelp om Euro 2024 te wen. Die Engelse spelskepper, Foden, het die vorige seisoen 27 doele aangeteken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-587-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-472-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….