Nuus 18:00
BULLETIN 1 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissaris Masemola gaan waarnemende minister Cachalia oor polisie-uitdagings inlig
# Solidariteit sê FlySafairse vlieëniers het basiese regte gekom, maar teen ‘n prys
# En rugby: Die Cheetahs en die Pumas skop vanaand die tweede naweek van die Curriebeker-Premierliga af
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê hy sal die waarnemende minister, Firoz Cachalia, inlig oor die vele kwessies in die Polisiemag, insluitend die behoefte aan meer hulpbronne en personeel. Masemola het voor die Uniegebou sy volle steun aan Cachalia beloof en sê die Polisiediens sien uit na sy leiding om veiligheid in Suid-Afrika te verbeter:
KwaZulu-Natal se premier, Thamsanqa Ntuli, het intussen die taakspan oor politieke moorde en die provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, geloof vir hul volgehoue pogings om misdaad te bekamp en gemeenskappe veilig te hou. Dit volg na ‘n reeks inhegtenisnemings in die moordsake van die ANC-Jeugliga se sekretaris-generaal, Sindiso Magaqa, die DA-raadslid Nhlayenza Mdlovu en KwaDukuza se munisipale beampte, Nokulunga Happiness Mashabane. Die premier se woordvoerder, Lindelani Mbatha, sê dis ʼn duidelike boodskap aan misdadigers dat hulle nie kan wegkruip nie:
# Die vakbond Solidariteit sê die skikking wat bereik is tussen FlySafair en sy vlieëniers, is ‘n klein oorwinning vir die werkers, maar ‘n terugslag vir arbeidsverhoudinge. Die ooreenkoms is deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie teweeggebring en beëindig ‘n staking van 12-dae en die uitsluiting van vlieëniers. Dit bied vlieëniers meer rustyd, salarisverhogings oor ‘n vier-jaar tydperk, en vergoeding vir oortydwerk. Helgard Cronjé van Solidariteit sê die skikking was maande vroeër al moontlik:
Nuus uit die buiteland:
# Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, sê sy regering is teleurgesteld oor die Amerikaanse president, Donald Trump, se besluit om tariewe op Kanadese goedere te verhoog. Trump het vroeër gewaarsku oor handelsgevolge vir Kanada nadat Carney planne aangekondig het om volgende maand ‘n Palestynse staat te herken tydens die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering. Trump het in ‘n uitvoerende bevel die heffing van 25-persent tot 35-persent verhoog. ‘n Wye reeks produkte gedek deur ‘n ooreenkoms tussen Amerika, Kanada en Mexiko in 2020, is egter van die tariefkoers vrygestel.
# Rugby: Die Cheetahs en die Pumas skop vanaand die tweede naweek van die Curriebeker-Premierliga in Bloemfontein af. Môre reis Westelike Provinsie na Johannesburg om op Ellispark teen die Leeus te speel, terwyl die Bulle en die Haaie mekaar op Loftus pak. Sondag speel die Griekwas en die Boland Kavaliers in Kimberley. Die Leeus is tans voor op die punteleer, gevolg deur die Bulle, die Pumas en Boland. Die Cheetahs, Griekwas, WP en die Haaie is aan die onderkant van die punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-449-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….