Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regsveterane sluit aan by die Ondersoekdirektoraat as konsultante
# ActionSA is bekommerd oor ‘n gebrek aan suksesvolle staatskaping-vervolgings
# En, rugby: Twee nuwelinge is in die Wallabies se wedstrydgroep vir Saterdag se toets teen die Springbokke
# Die regsveterane van die staatskapingskommissie, Paul Pretorius en Matthew Chaskalson, is gewerf as konsultante van die Ondersoekdirektoraat. Pretorius was die hoof van die kommissie se regspan, en Chaskalson ‘n getuienisleier. Hulle sluit aan by die direktoraat te midde van kritiek oor vertragings met die vervolging van diegene wat deur die kommissie betrek is. Hulle werwing volg op onlangse terugslae, waaronder sake wat verband hou met die Vrede-suiwelplaas en die voormalige hoof van Eskom, Matshela Koko, wat van die rol geskrap is.
ActionSA in die Vrystaat sê intussen hy bly bekommerd oor die klaarblyklike gebrek aan suksesvolle staatskapingsvervolgings en -skuldigbevindings. Patricia Kopane van die party sê dit laat vrae ontstaan of die Nasionale Vervolgingsgesag, onder sy huidige leierskap, in staat is om die geregtigheid te kan laat geskied waarop Suid-Afrikaners aandring. Sy sê ActionSA is woedend nadat die Hooggeregshof in Bloemfontein besluit het om die Estina-suiwelsaak van 280-miljoen-rand van die rol te skrap:
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee vra die uitwissing van selfvoldaanheid, korrupsie en onbevoegdheid in sy geledere. Die party wil ‘n dinamiese, verantwoordbare struktuur hê om te verseker die leierskap voldoen aan sy manifesverpligtinge. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula het na die pas-afgelope lekgotla aan die media gesê hulle vra interne hervorming om die swakhede in die regering uit die weg te ruim en die doeltreffendheid van die party in die bevordering van sy transformerende agenda te verbeter:
# Rugby: Carlo Tizzano maak Saterdag sy toetsdebuut vir die Wallabies in hulle Rugby Kampioenskaps-openingswedstryd teen die Springbokke in Brisbane. Tizzano speel aan die oopkant, terwyl sy medeflank, Luke Reimer, van die bank af sy debuut kan maak. Allan Alaalatoa behou die kapteinskap. Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, sê hulle sal baie akkuraat moet wees teen die Bokke:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-538-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-417-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-9-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan die ontslape aktrise en rolprentmaker Connie Chiume, en beskryf haar as ‘n kreatiewe ikoon. Chiume is op 72 oorlede, met ‘n nalatenskap van optredes in produksies soos Black Panther, Yizo Yizo 2, Zone 14 en Gomora. Ramaphosa het haar bydraes tot die rolprentkuns geloof en sê dit het Suid-Afrika wêreldwyd in mense se huise ingebring. Hy noem haar ‘n inspirasie wat Suid-Afrikaanse stories outentiek uitgebeeld het. Die president sê haar nalatenskap sal mense aanhou inspireer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….