Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Israelse polisie red vyf Suid-Afrikaanse vroue uit sekshandel
# Verbeterde elektrisiteitsvoorsiening in Suid-Afrika kan die hernubare beleggingslandskap verander
# En, rugby: Siya Kolisi is volgens berigte op pad terug uit Frankryk
# Die Israelse polisie het ‘n Suid-Afrikaanse mensehandelnetwerk oopgevlek en vyf Suid-Afrikaanse vroue in Jerusalem and Tel Aviv gered uit gedwonge prostitusie. Volgens News24 is drie vroue in Junie gered tydens ‘n klopjag op ‘n bordeel in Jerusalem, wat gelei het tot verdere opsporings in Tel Aviv waar twee vroue gered is. Vier Suid-Afrikaners en ‘n persoon met dubbele Nigeriese en Suid-Afrikaanse burgerskap is in hegtenis geneem, en nog inhegtenisnemings word verwag. Die slagoffers vertel van ernstige uitbuiting en mishandeling.
# Suid-Afrika se verbeterde elektrisiteitsvoorsiening kan lei tot verminderde beleggingsgeleenthede in hernubare energie. Volgens Dino Zuccollo van Westbrooke Alternative Asset Management het die regering se vinnige oorgang na hernubare energie, gesteun deur wysigings aan die Wet op Inkomstebelasting, aansienlike beleggings aangemoedig. Hy glo egter wanneer elektisiteitsbestendigheid verbeter, kan die aanmoedigings heroorweeg word wanneer die wetgewing op 1 Maart volgende jaar hersien word. Onlangse data toon ‘n verhoging van 5,4-persent in elektrisiteitsopwekking en ‘n styging van 3,3-persent in verbruik.
# Die Stad Tshwane het 48 van sy busbestuurders aangekla van drostery nadat hulle ‘n tugverhoor misgeloop het. Hulle is aanvanklik aangekla van deelname aan onwettige stakings, die verwaarlosing van hulle pligte en versuim om vir diens aan te meld. Die woordvoerder, Lindela Mashigo, sê dit het gelei tot ontwrigte busdienste wat pendelaars geraak het. Hy sê die geen werk-geen-betalingbeleid sal toegepas word:
# Rugby: Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, is volgens berigte op pad terug uit Frankryk nadat die eienaar van Racing 92, Jacky Lorenzetti, in die openbaar beweer het hy is oorgewig en sy spelpeil nie na wense nie. Kolisi is na verlede jaar se Wêreldbekertoernooi na die span met ‘n jaarlikse salaris van sowat 20-miljoen-rand, terwyl die klub die Haaie ook 17-miljoen-rand betaal het om hom uit te koop, maar ‘n besering het daartoe gelei dat hy nie juis beïndruk het nie. Die Haaie is skynbaar gretig om hom terug te hê.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-914-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-470-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: AfriForum het ‘n nuwe slimfoontoepassing bekendgestel sodat sy buurtwaglede misdaad kan bekamp. Patrolleerders kan nou voorvalle aanmeld, om hulp vra en maklik inligting versamel. Dit hou rekord van hulle ligging tydens patrollies sodat hulle flink op voorvalle kan reageer. Patrolleerders kan stemboodskappe opneem, asook video’s en foto’s. ‘n Woordvoerder van AfriForum, Jacques Broodryk, sê die toepassing sal doeltreffendheid verbeter en help om misdaadneigings te volg:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….