Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verdedig sy rol in die regering van nasionale eenheid en verwerp Helen Zille se koalisiebewerings
# Solidariteit versoek voortgesette gesprekke met Media24 om joernaliste te beskerm
# En, die Olimpiese Spele: Tatjana Smith tree dalk uit na vanaand se medalje-poging in Parys
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, verwerp die bewerings van die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, dat die regering van nasionale eenheid ‘n koalisie tussen die DA en die ANC is. Hy het die media toegelig in Ekurhuleni tydens die driedaagse vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Volgens Mbalula bly die ANC sentraal in die regering van nasionale eenheid en geen regeringsbesluite kan sonder sy betrokkenheid geneem word nie:
# Die vakbond Solidariteit versoek Media24 om gesprekke voort te sit om joernaliste te beskerm te midde van die behoud van 66 redaksionele poste. Na druk van die publiek en die media sal Media24 Beeld en Volksblad digitaal aanbied. ‘n Woordvoerder van Solidariteit, Johan Roos, sê die vakbond sal voortgaan om die afleggingsproses te bemiddel en eis deursigtigheid en billikheid vir lede wat geraak word. Roos vra voortgesette gesprekke om aan regsvoorskrifte te voldoen en die beste uitkomste vir sy lede te beding:
# Die Nasionale Tesourie gaan voorgestelde wysigings aan regulasies vir finansiële markte teen die einde van 2024 bekend stel. Die Gedragsowerheid van die Finansiële Sektor wys daarop die nuwe reëls sal fokus op oor-die-toonbank afgeleide instrumente en deursigtigheid verbeter met ongenoteerde markbedrywighede. Die Tesourie wil bestaande wetgewende skuiwergate aanpak in ooreenstemming met die beste wêreldwye gebruike. Volgens die Tesourie is die konsep feitlik afgehandel met ‘n raadplegingsfase wat na verwagting voor die einde van die jaar sal volg.
# Olimpiese Spele: Vanaand se medalje-stryd in die 200-meter-borsslag kan dalk die laaste verskyning van die huidige goue meisie van Suid-Afrikaanse swem, Tatjana Smith, wees. Die 27-jarige het onlangs gesê sy wil nie langer gedefinieer word deur haar prestasies nie, en dat daar lewe na swem is. Smith het reeds goud in die 100-meter-borsslag ingepalm na goud en silwer in Japan. Sy en haar landgenoot Kaylene Corbett swem albei in die eindronde, en Pieter Coetzé in die eindronde van die mans 200-meter-rugslag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-577-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-451-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-96-sent per vat.
# Ten slotte: Die ministerie vir Vroue, Kinders en Persone met Gestremdhede sê vanjaar se Vrouemaandveldtog sal die maatskaplik-ekonomiese vordering sedert die begin van demokrasie in oënskou neem. Die veldtog met die tema die herdenking van 30 jaar se demokrasie vir die ontwikkeling van vroue, sal toegespits wees op groter vroulike verteenwoordiging in die Parlement en senior bestuursposisies. Minister Sindisiwe Chikunga sê dit sal ook fokus op geslagsgeweld en aandag gee aan foute van die verlede om geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue te bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….