Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Matriekleerder van Pretoria Girls High word geskors oor beweerde rassistiese opmerkings in ‘n video
# Die VF Plus eis antwoorde oor militêre opleiding te midde van Suid-Afrika se plasing op die gryslys
# En, die Olimpiese Spele: Kanada verloor sy appèl teen die aftrek van punte na die hommeltuig-skandaal in sokker
# Die Gautengse Onderwysdepartement het die skorsing bevestig van ‘n graad 12-leerder aan Pretoria High School for Girls na ‘n wydverspreide video op sosiale media wat vermoedelik rassistiese ondertone het. Dit volg op die skorsing van nog twaalf leerders vir beweerde rassistiese opmerkings in ‘n Whatsapp-groep, sowel as die skoolhoof. Steve Mabona van die departement sê hulle is vasberade om ‘n veilige, inklusiewe omgewing te verseker vir alle leerders:
# Die Vryheidsfront Plus waarsku oor ‘n nasionale sekerheidsbedreiging nadat 95 Libiese burgers in hegtenis geneem is vir beweerde militêre opleiding by ‘n privaat kamp in Witrivier, Mpumalanga. Hulle kritiseer die regering se gebrek aan optrede, veral nadat die Finansiële Aksietaakmag Suid-Afrika op ‘n gryslys geplaas het omdat geldwassery en terrorisme nie aandag gekry het nie. Partyleier Pieter Groenewald eis onmiddellike optrede om te keer die land word ‘n spilpunt vir terroriste-opleiding:
# AgriSA waarsku die nuwe, hersiene prysstrategie vir onbehandelde watergebruiktariewe wat in 2026 van krag kan word, kan druk op die landbousektor plaas. Die strategie, gemik op die bevordering van doeltreffende watergebruik en wat die hulpbron se skaarsheidswaarde uitbeeld, kan hoër uitgawes beteken vir die landbou, wat 63-persent van die land se water verbruik. AgriSA is bekommerd oor hoë nie-inkomste watertariewe, watergehalte wat afneem, en die verwydering van beperkings op die styging in infrastruktuurkoste. Die organisasie vra versigtige beoordeling om die negatiewe uitwerking op boere en voedselpryse te keer.
# Olimpiese Spele: Die Hof vir Arbitrasie in Sport het Span Kanada se appèl teen die aftrek van punte vir sy sokkerspan van die hand gewys na die gebruik van ‘n hommeltuig om te spioeneer op sy teenstander, Nieu-Seeland, voor verlede week se groepswedstryd. Ses punte is afgetrek en die wêreldbeheerliggaam, Fifa, het die beamptes Bev Priestman, Jasmine Mander en Joseph Lombardi vir ‘n jaar geskors uit enige betrokkenheid met sokker. Kanada se sokkerliggaam is ook met 4,1-miljoen-rand beboet. Die hof sal later redes vir sy besluit gee.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-460-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-428-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika doen vandag ‘n deurbraak-stap in Kunsmatige Intelligensie-tegnologie. Immersive Fox, ‘n rewolusionêre KI-gedrewe “teks-na video”-tegnologie, kan digitale klone van regte mense skep, ideaal vir opvoeders, uitvoerende hoofde en bemarkers. Hierdie KI-akteurs word voorgesê deur woorde of tekste by te voeg, en kan inhoud in meer as 50 tale op skerm lewer, ‘n kragtige instrument vir verpersoonlikte opleiding en bemarking. Met hierdie baanbreker tegnologie is dit vinniger en meer doeltreffend om video’s van ‘n hoё gehalte te lewer, ‘n beduidende stap voorwaarts in ‘n digitale omgewing wat reeds blitsvinnig is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….