Nuus 18:00
BULLETIN 18 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kgosientsho Ramokgopa prys die uitskakeling van lasvermindering in sewe provinsies
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, onthul R3,1-miljard in onverhaalde fondse by NSFAS
# En, die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie sluit alle kampusse weens gewelddadige studente-onrus
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die regering het verwagtinge oortref deur lasvermindering uit te skakel. Sewe van die nege provinsies het nou die praktyk beëindig, met die Oos-Kaap as die jongste verlede week. Ramokgopa sê werk duur voort in KwaZulu-Natal en Gauteng. Hy bly vol vertroue dat beide provinsies so gou as moontlik voltooi sal wees na volgehoue ondersteuning om die sperdatum te haal:
# Meer as 40-duisend studente by 76 instellings is nie behoorlik befonds deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nie, teen ‘n koste van 5,1-miljard-rand. Die Openbare Beskermer Kholeka Gcaleka het vandag die bevindings van ‘n ondersoek bekendgemaak. Slegs twee-miljard-rand is verhaal, dus is ongeveer 3,1-miljard-rand uitstaande. Dit laat ernstige vrae ontstaan oor NSFAS se finansiële beheermaatreëls, nagaanprosesse vir geskiktheid en aanspreeklikheid. Sy sê die ondersoek beklemtoon die behoefte aan sterker toesig om te verhoed dat ongeregtigde begunstigdes in die toekoms fondse ontvang wat vir verdienstelike studente bedoel is.
# Die Nasionale Krugerwildtuin in Mpumalanga en Limpopo beplan ‘n groot infrastruktuur-opknapping na die ernstige oorstromings in Januarie, met herstelwerk wat na verwagting sowat 950-miljoen-rand sal kos. Die vloede het paaie, akkommodasie en waterinfrastruktuur beskadig. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, sê werk is nou aan die gang om die beskadigde fasiliteite te herbou en te verbeter, met sommige areas van die Letaba-ruskamp wat na verwagting volgende maand sal heropen:
# Die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie het al sy kampusse en koshuise gesluit ná toenemende studente-onrus. Die besluit volg nadat ‘n brand gestig is naby die Ou Onderwysgebou op die kampus in Bellville. Geen beserings is aangemeld nie. Akademiese bedrywighede is opgeskort en studente het opdrag gekry om koshuise te ontruim. Die betogings hou verband met klagtes oor studentebefondsing, geskiedkundige skuld, koshuisgelde en voorgestelde registrasievereistes. Die universiteit sê sy kampusse bly gesluit tot verdere kennisgewing.
# Sokker: FIFA se bedryfshoof, Kevin Lamour, is afgedank nadat hy verlede maand die president, Gianni Infantino, se mislukte plan in die openbaar kritiseer het om ‘n deel van die Wêreldbekertoernooi aan beleggers te verkoop. Hy beskryf die omstrede FIFA Forward Enterprise-plan as een persoon se projek en sê personeel is mislei. Daar was wydverspreide kritiek op die voorstel, wat behels het dat 21-persent van die beheerliggaam aan privaat beleggingsmaatskappye verkoop word. Lamour se vertrek volg op die bedanking van ʼn senior raadgewer van Infantino, Carlos Cordeiro.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-256-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-403-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….