Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beloof deurlopende hersiening van die uitvoerende gesag se grootte
# Die ANC-veteraan Tony Yengeni verteenwoordig Jacob Zuma op sy ANC-tugverhoor
# En, die Olimpiese Spele: Die debutant Zenéy Geldenhuys wil haar stempel in Parys afdruk
# President Cyril Ramaphosa beloof deurlopende hersiening van die uitvoerende gesag se grootte namate die demokrasie ontwikkel, om doeltreffende staatsbestuur te verseker. Hoewel die grootte van die uitvoerende gesag ondersoek word, bly die fokus op volhoubare groei en strategiese hervormings. Ramaphosa het in die debat oor sy begrotingspos gevra vir sterk regeringskoördinering om uitdagings aan te pak. Hy sê die uitwerking van hervormings beklemtoon die sleutelrol van die Presidensie ten opsigte van ontwikkeling en doeltreffende staatsbestuur vir alle landsburgers:
# Die ANC-veteraan, Tony Yengeni, sê hy verteenwoordig oudpresident Jacob Zuma op sy verhoor voor die ANC se tugkomitee. Dit volg nadat Zuma die MK-party tydens die verkiesing gesteun het. Yengeni het teenoor die SABC benadruk dis belangrik dat Zuma deur al die ANC-prosesse gaan en die ANC by prosedures hou. Hy sê Zuma wil persoonlik met die komitee vergader:
# Kundiges vra Suid-Afrika se kindersteuntoelaag van 530-rand moet verhoog word. Dit is minder as die voedselarmoedeperk van 760-rand, met 40-persent van Suid-Afrikaners van werkende ouderdom wat werksloos is en 55-persent vasgevang in uiterste armoede. Mervyn Abrahams van die organisasie Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity sê die toelae steun 13,2-miljoen kinders, maar voldoen nie aan hulle voedingsbehoeftes nie. Hy stel ‘n perk op nutstariewe voor, die uitbreiding van kossoorte wat nie BTW dra nie, en dat die toelaag moet ooreenstem met die voedselarmoedeperk om hongersnood onder kinders te verlig.
# Olimpiese Spele: Die voormalige junior wêreld- en Afrika-kampioen, Zenéy Geldenhuys, het die afgelope paar jaar haar plek bevestig as Suid-Afrika se voorste 400-meter-hekkiesatleet. Die 24-jarige Geldenhuys maak haar Olimpiese debuut na kwalifisering met ‘n tyd van 54,72-sekondes. Sy het ‘n bronsmedalje gewen op die Statebondspele in Birmingham en sê sy wil in Parys haar stempel afdruk:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-698-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-421-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Australiese dokters probeer die afgerukte been van ‘n branderryer weer aanheg nadat dit na ‘n haai-aanval uitgespoel het. ‘n Reuse-grootwithaai het die 23-jarige Kai McKenzie gister in Nieu-Suid-Wallis op sy branderplank aangeval. Hy het daarin geslaag om die strand te bereik waar ‘n vandiens-polisieman die bloed kon stop deur sy hond se leiband as drukverband te gebruik. McKenzie se been het kort daarna uitgespoel en omstanders het dit op ys geplaas en hospitaal toe gehaas. ‘n GoFundMe-veldtog vir sy mediese onkoste het reeds bykans 900-duisend-rand ingesamel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….