Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa maan die EFF-leier teen die man speel in plaas van die bal
# Boere vra samesprekings oor ‘n meesterplan vir landbou
# En, die Olimpiese Spele: Noah Lyles is die gunsteling vir die Olimpiese naelloop-dubbel in Parys
# President Cyril Ramaphosa het die leier van die EFF, Julius Malema, gemaan om opbouend te debatteer in plaas daarvan om op hom te fokus. Hy het na aanleiding van Malema se opmerkings gedurende die debat oor sy toespraak met die Parlementsopening, gesê Malema is swak ingelig oor die geskiedenis van die mynbousektor, insluitend die mynwerkersvakbond NUM. Hy beklemtoon daar moet gefokus word op ontwikkeling vir vooruitgang:
# Boere is bekommerd oor minister John Steenhuisen se meesterplan vir die landbou, en kla oor ‘n gebrek aan raadpleging. Die plan wil inklusiewe groei, mededingendheid en indiensneming in landbou bevorder. Kritici, onder wie die verenigings TLU SA en Saai, betoog die plan rus op verouderde ANC-beleid en is ontwikkel sonder genoegsame insette deur boere. Hulle vra ‘n fokus op winsgewendheid en volhoubaarheid, en moedig Steenhuisen aan om regstreeks te skakel met boere in alle streke voor hy die program afhandel. Hulle is bekommerd transformasiedoelwitte bly onduidelik en moontlik problematies.
# Die Suid-Afrikaanse Raad vir Blindes is diep bekommerd oor berigte oor die afpersing van mense met gestremdhede in Mthatha in die Oos-Kaap. Mense met gestremdhede word volgens berigte geteiken in ruil vir beskerming. Die uitvoerende direkteur, Lewis Nzimande, sê hulle is reeds ‘n ruk lank bewus van die kwessie, maar polisiebystand ontbreek. Die raad eis onmiddellike optrede om dié kwesbare mense te steun en beskerm.
# Olimpiese Spele: Noah Lyles is die gunsteling om die naelloop-dubbel in Parys te wen. Die Amerikaanse wêreldkampioen het die naweek op die Diamantliga-byeenkoms in Londen die 100-meter gewen in ‘n persoonlike beste tyd van 9,81-sekondes, met Akani Simbine van Suid-Afrika tweede. Lyles het verlede jaar op die wêreldkampioenskap in Boedapest goud gewen in die 100- en die 200-meter, en sê hy kan nie wag vir die Spele nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-135-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-392-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in Mpumalanga versoek die regering om die uitwissing van put-toilette en emmertoilette te versnel. Statistieke Suid-Afrika berig meer as 17-duisend huishoudings gebruik steeds hierdie onhigiëniese stelsels. Die kommissie se provinsiale bestuurder, Eric Mokonyama, is bekommerd oor die skending van inwoners se reg. ‘n Vergadering oor die uitwissing van puttoilette in openbare skole word vir volgende Maandag beplan. Die LUR vir Menslike Nedersettings, Speedy Mashilo, word versoek om met munisipaliteite saam te werk en ‘n volledige plan hieroor voor te lê.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….