Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vol vertroue die nuwe regering kan ‘n weg vind oor die NGV en BELA-wette
# Die Spesiale Ondersoekeenheid herwin 112-miljoen-rand se ongerymde NSFAS-uitbetalings
# En, rugby: Grey-kollege hou aan om Springbokke te kweek
# Die DA-leier, John Steenhuisen, sê ondanks meningsverskille in die regering van nasionale eenheid oor die Nasionale Gesondheidsversekering en die BELA-wetsontwerp, sal hulle tot ‘n vergelyk kom. Steenhuisen het in die Parlement die Nasionale Gesondheidsversekering gekritiseer vir die beperking op toegang tot privaat gesondheidsorg en mediese hulpskemas. Hy doen ‘n beroep vir eerlikheid en goeie trou om geskille op te los:
Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty versoek president Cyril Ramaphosa intussen om die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette te bekragtig. Die Nasionale Vergadering het dit vroeër met 223 stemme teen 78 goedgekeur. Die BELA-wet is daarop gemik om uitdagings in basiese onderwysbestuur aan te pak en maatskaplike geregtigheid te verseker. Die SAKP wys op die noodsaak vir die wet om diskriminerende praktyke te bekamp en toegang tot onderwys vir alle Suid-Afrikaners te bevorder.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Mimmy Gondwe, het die Spesiale Ondersoekeenheid se verhaling van 112-miljoen-rand se onreëlmatige betalings van die Nasionale Finansiële Hulpfonds vir Studente geloof. Die SOE het hom verbind om die fonds se bestuursprobleme op te los, en het geld van 421 nie-kwalifiserende studente by universiteite en kolleges verhaal. Die oorbetalings wat weens swak beheer gedoen is, het eenduisend-700 verdienstelike studente die reg ontsê van hulp wat hulle nodig gehad het. Die department wil die fonds hervorm om die behoorlike toewysing van fondse te verseker.
# Die Israeliese Weermag ondersoek ‘n oënskynlike hommeltuigaanval op sentraal Tel Aviv in die vroeë oggendure. Israeliese nooddienste sê een persoon is in die ontploffing dood en verskeie ander beseer. Houthi-militante in Jemen het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar. Die voorval volg nadat die Israeliese Weermag bevestig het dat hulle ‘n senior Hezbollah-bevelvoerder in die suide van Libanon gedood het. Hezbollah en die Houthi’s sê albei hulle tree in solidariteit met die Palestyne op.
# Rugby: Jan-Hendrik Wessels draf môre op die Vrystaat-stadion die eerste keer in ‘n Springboktrui op die veld wanneer die Springbokke vir Portugal pak. Die jong stut het in Bloemfontein groot geword en was op Grey-kollege saam met die haker André-Hugo Venter, wat ook gereed is vir sy eerste toets, van die reserwebank af. Hulle twee is Grey se 46ste en 47ste Springbokke. Wessels sê dit is baie spesiaal om sy debuut voor sy tuisskare te maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-623-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-402-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….