Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank hou die terugkoopkoers onveranderd op 8,25-persent
# Die Black Business Council verwag min beleidsveranderings in Ramaphosa se toespraak met die Parlementsopening
# En, rugby: Lukhanyo Am is opgewonde oor die Springbokke se meer aanvallende styl
# Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het die terugkoopkoers op 8,25-persent gelaat. Die president, Lesetja Kganyago, het daarop gewys vier lede het hierdie standpunt gehuldig terwyl twee ‘n verlaging van 25-basispunte voorgestaan het. Oorkoepelende inflasie sal na verwagting laer neig weens laer brandstof- en voedselpryse. Hy het beklemtoon inflasie sal na verwagting stabiliseer op 4,5-persent terwyl die prima-uitleenkoers op 11,75-persent bly:
# Die uitvoerende hoof van die Black Business Council, Kganki Matabane, verwag nie enige groot beleidsveranderings wanneer president Cyril Ramaphosa met vanaand se opening van die Parlement sy planne uiteensit om die ekonomie ‘n hupstoot te gee nie. Matabane het teenoor Newzroom Afrika die behoefte aan kontinuïteit van ekonomiese transformasie benadruk, asook hulp aan sake-ondernemings. Hy sê die ondertekening van die Wetsontwerp op Openbare Verkryging is dringend om dié pogings verder te ondersteun:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor wag op meer as 350 aftreefondse om hulle reëlwysigings vir die twee-pot-aftreestelsel in te dien wat in September afskop. Die hoof van fondsbestuur, Zareena Camroodien, het die behoefte benadruk vir die goedkeuring van die wysigings deur die owerheid voor die fondse eise van lede kan verwerk. Ondanks die verlenging van die spertyd tot 31 Julie het die owerheid gewaarsku oor vertragings vir laat-indiening. Die bedryf verwag ook president Ramaphosa gaan die Wysigingswetsontwerp op Pensioenfondse onderteken wat noodsaaklik is vir die instelling van die tweepotstelsel.
# Nog ‘n vooraanstaande Demokraat twyfel oor die Amerikaanse president, Joe Biden, se kans om herkies te word. Die voormalige speaker van die Huis van Verteenwoordigers, Nancy Pelosi, het Biden volgens berigte privaat ingelig meningspeilings toon hy sal Donald Trump nie in November se verkiesing kan verslaan nie. Sy sê hy kan die party se kanse vernietig om te wen. Biden het blykbaar geantwoord hy het meningspeilings gesien wat aandui hy kan wen. Pelosi het in ‘n onlangse onderhoud gesê Biden moet spoedig besluit of hy gaan staan, want die tyd raak min.
# Rugby: Lukhanyo Am sien daarna uit om die eerste keer in byna ‘n jaar weer vir die Springbokke uit te draf. Hy is André Esterhuizen se sentermaat in Saterdag se toets teen Portugal in Bloemfontein. Dit is sy eerste toets vir die Bokke sedert Augustus verlede jaar, toe hy ‘n kniebesering teen Argentinië opgedoen het. Am is opgewonde oor die meer aanvallende styl van rugby wat die Bokke probeer speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-316-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-462-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….