Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA veroordeel die EFF en MK-party vir hulle skadelike beleid
# Binnelandse Sake gaan nuwe slim-ID-kaarte instel met verbeterde sekerheidsmaatreëls
# En, tennis: Rafael Nadal verras met sy inskrywing vir die Amerikaanse Ope
# Die DA het die EFF en MK-party veroordeel vir hulle voorspraak vir skadelike beleid soos die skrapping van die Grondwet en parlementêre soewereiniteit. Die party betoog die voorstelle bedreig Suid-Afrika se demokratiese grondslag en vooruitgang. Partyleier John Steenhuisen het op ‘n nuuskonferensie gesê die regering van nasionale eenheid is deurslaggewend in die teenstaan van die radikale magte en om bestuur te verseker wat nasionale eenheid en vooruitgang bevorder:
# Suid-Afrikaners gaan nuwe, opgeknapte identiteitsdokumente en paspoorte kry. Volgens die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sal die opgedateerde dokumente verbeterde sekerheidsmaatreëls hê om bedrog teen te werk en internasionale vertroue op te bou. Slim ID’s is in 2013 ingestel om die ou groen-ID-boekies te vervang, hoewel die boekies nog in gebruik is. Schreiber het die aankondiging gedoen in sy begrotingsrede, maar nie die insteldatum of die presiese kenmerke aangedui nie.
# Koning Charles van Brittanje het tydens die opening van die land se Parlement ‘n wetsontwerp aangekondig vir die stigting van Great British Energy. Hy het die huidige kabinet, gelei deur die eerste minister Keir Starmer, in Westminster toegespreek en die klimaatsuitdaging beklemtoon, asook die werkskeppingsmoontlikhede van toekomstige tegnologie. Die koning sê die regering jaag ‘n skoonenergie-oorgang na om energiekoste vir verbruikers te verlaag, en daarby sal die wetsontwerp volhoubare stralerbrandstof-produksie steun:
# China sê hy het onderhandelings met Amerika opgeskort oor die nie-uitbreiding van kernwapens en wapenbeheer weens Washington se, wapenverkope aan Taiwan. Amerika en China het in November seldsame samesprekings gehou oor beheer oor kernwapens as deel van ‘n poging om wantroue te laat afneem voor ‘n spitsberaad tussen die leiers Joe Biden en Xi Jinping. China se ministerie van Binnelandse Sake het egter vandag gesê onlangse verkope van wapens aan die selfregerende Taiwan ondermyn die politieke atmosfeer vir voortgesette wapenbeheer-samesprekings tussen die twee lande.
# Tennis: Dit lyk nie of Rafael Nadal lus is om nou al sy glansloopbaan te beëindig nie. Die 38-jarige Spanjaard, met 22 Grand Slam-titels op sy kerfstok, het ingeskryf vir die Amerikaanse Ope wat op die 26ste van volgende maand in New York afslaan. Baie mense het verwag Nadal sal sy uittrede aankondig na die Olimpiese Spele in Parys, maar hy is in die trekking vir die Amerikaanse Ope danksy sy beskermde plek op die ranglys. ‘n Besering het die viermalige kampioen verlede jaar weggehou van Flushing Meadows.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-935-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-465-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….